Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-ster Evan oortref sy eie verwagtinge
Jaden Hendrikse probeer vergeefs om Evan Roos op pad doellyn toe te stuit. Foto: Gallo Images

“Hy gaan ’n baie, baie spesiale speler word.”

Dít is die voorspelling van John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie, vir sy uitstaande agtsteman, Evan Roos.

Dalk is dit te vroeg om “baie, baie” te sê, maar gegrond op Roos se vertonings vir die Stormers en Westelike Provinsie tot dusver, ly dit min twyfel dat ’n blink rugbytoekoms op hom wag.

“My aanvanklike doelwit met my aankoms in die Kaap aan die begin van die jaar was maar net om in die groep te wees. Al hierdie speelkans en ekstras wat ek nou kry, is ’n yslike seën,” sê Roos.

Roos (21) het sonder veel fanfare as ’n leenspeler van die Haaie in Kaapstad aangekom, min of meer in die tydstip toe Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, die skuif in die ander rigting gemaak het.

“Ek het gesien dat daar ’n paar gapings by die WP is en my agent gevra om dit te ondersoek. Toe is die antwoord ja en die skoot in die donker het sy teiken gevind,” sê hy.

“Ek is sedert dag een met ope arms verwelkom. Hier is nie ego’s nie. Daar’s ’n sterk onderlinge gevoel in die groep en die oorgang was baie maklik.

“Ek kry geleenthede hier en enige speler sal vir jou sê dat ’n geleentheid alles is. Ek is baie dankbaar teenoor die afrigters wat hul vertroue in my plaas en my die vryheid gee om myself op die veld uit te leef.”

Vir die hoogtepunt van sy uithalerspel tot dusver hoef daar nie verder gekyk te word as die drie wat hy verlede week in die wen van 32-31 oor die Haaie in die Kaapstad-stadion gedruk het nie.

Roos het met Jaden Hendrikse wat aan hom vasklou sy bene oor etlike meters gepomp om die doellyn oor te steek.

“Ek was self ’n bietjie verbaas,” sê hy.

“Toe ek begin hardloop, het ek gesien dat dit ’n skrumskakel op my rug is. Toe sê ek vir myself ‘as ek nie hier druk nie, gaan ek kwaad wees’. Ek het maar net my bene gepomp tot ek by die lyn kom.”

Hoe het sy bene die volgende dag gevoel?

“Verbasend nie te moeg nie,” lag hy.

“Ek het die volgende dag nog by die gimnasium uitgekom en alles!”

Ondanks sy puik spel, is Roos beskeie oor sy doelwitte,

“My volgende doelwit is Woensdag se wedstryd teen Griekwas en om die wen te kry. Ek kyk nie te ver in die toekoms in nie,” sê hy.

En wat van die vooruitsig om op 17 Julie teen die Britse en Ierse Leeus te speel?

“Dit sal ’n yslike geleentheid wees. Hulle kom net een keer elke 12 jaar en met die volgende geleentheid sal ek 33 wees! Om veral in ’n WP-trui teen hulle te kan speel, sal yslik wees. Indien ek die geleentheid kry, sal dit ’n besonderse eer wees,” sê Roos.

In Dobson se oë is dit waarskynlik nie ’n geval van “indien” nie. Trouens, Roos is in hierdie stadium so seker van sy plek as wat enige speler kan hoop om te wees.

• Kyk na Roos se drie: https://www.sarugbymag.co.za/watch-roos-drags-hendrikse-with-over-tryline/

Meer oor:  Wp  |  Evan Roos  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.