Warrick Gelant gaan vir die res van die Westelike Provinsie se Curriebeker-veldtog en ’n stewige deel van die Stormers se Pro16-wedstryde volgende jaar op die krukkelys deurbring, maar loop nie die gevaar om die Britse en Ierse Leeus se toetsreeks teen die Springbokke volgende jaar mis te loop nie.

Warrick Gelant, heelagter van die WP, lak die Bulle-losvoorspeler Nizaam Carr in verlede naweek se Curriebeker-wedstryd op Nuweland. Foto: Gallo Images
Die WP se voorkeur-heelagter het ’n ernstige kniebesering opgedoen in die afgelope naweek se nederlaag van 20-22 teen die Bulle op Nuweland en gaan vir ses maande langs die kantlyn wees.
Gelant staan sedert sy aankoms in die Kaap dié seisoen kop en skouers bo die res van die Stormers en WP se agterspelers uit met sy spelpeil, wat hierdie ’n yslike terugslag vir die Streeptruie se Curriebeker-veldtog maak.
Gegewe Gelant se goeie spel en die feit dat hy in die Springbokke se groep vir 2019 se Wêreldbeker-toernooi was, is dit ’n logiese gevolgtrekking dat hy ’n sterk kandidaat is om volgende jaar in die Bok-groep vir die Leeus-reeks te wees.
Gelant behoort die rehabilitasie van sy besering teen die einde van Mei volgende jaar af te handel. Die eerste wedstryd van die toer sal op 3 Julie teen die Stormers in die Kaapstad-stadion wees.
Dít alles indien die omstandighede met die Covid-19-pandemie gunstig is vir die toer om voort te gaan.