Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP: Tyd vir reguit praat én losskakel soek

Is jy in of uit?

Het Siya Kolisi Saterdag ’n laaste keer in ’n WP-trui uitgedraf?Foto: Gallo Images

Daardie vraag, aan Siya Kolisi, moet die eerste tree vorentoe wees vir die Westelike Provinsie nadat hy in Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd op Nuweland die knie voor die Haaie moes buig.

Terwyl dit hartseer was om te sien hoe ’n veldtog in die laaste wedstryd op Nuweland ontrafel, is die keersy dat daar ’n geleentheid op ’n nuwe begin is.

Daar is duidelik leemtes in sleutelposisies in die span, die wedstrydplan is eendimensioneel en gerugte loop dat Kolisi, die WP se kaptein, se kop Haaie toe staan.

Behalwe wat Kolisi as ’n speler bied, sal dit ’n ramp in openbare betrekkinge en ’n kommersiële terugslag wees as hy die pad vat.

Dis tyd vir die Westelike Provinsie om die jong losskakel Kade Wolhuter gereeld speelkans te gee. Foto: Gallo Images

Daar kom egter ’n tyd waar jy die onafwendbare op die ken moet vat eerder as om ’n verlore stryd daarteen te voer. Die WP moet dus vinnig ’n antwoord by Kolisi kry sodat daar met of sonder hom vir die pad vorentoe beplan kan word.

Wat die kwessie van kontraktering betref, moet die fokus daarop wees om die losskakel-posisie te versterk.

Vir eers kan dit loon om Kade Wolhuter by die diepkant in te gooi en toe te laat dat hy in die posisie groei, met die pyne wat daarmee gepaard gaan.

Sodra daar meer sekerheid is oor die pad vorentoe in terme van toernooi-strukture op die lange duur, kan daar binne en buite Suid-Afrika se grense gesoek word vir ’n losskakel van wêreldgehalte.

John Dobson, die WP se afrigter, het ná die nederlaag van 9-19 erken dat daar leemtes op losskakel is en dat hulle dalk ook iemand sal moet vind wat soos die Haaie se Curwin Bosch Saterdag die bal van agter die middellyn af deur die pale kan skop.

“Die losskakel-posisie is nou al vir ’n rukkie vir ons ’n uitdaging. Ons het aanvanklik vir Damian Willemse gekies, maar hy het heelagter toe geskuif,” het Dobson gesê.

“Jy kon in die eerste helfte sien hoe Curwin Bosch van naby hul 10 m-stippellyn die bal deur die pale geskop het en ons van die middellyn af die kantlyn moes opsoek. Dit verander dinge. Om 0-9 agter te wees, het ons onder yslike druk geplaas.

“Dit sal goed wees om dit in ons arsenaal te hê. Baie van die ander spanne het dit – Tiaan Swanepoel vir die Leeus en Frans Steyn vir die Cheetahs. Dit is iets wat ons sal moet oorweeg.”

Hy het bevestig dat daar ’n fokus sal wees om meer geleenthede aan jong spelers te gee in die volgende kompetisie. Die verwagting is dat daar van einde Februarie af weer ’n reeks tussen Suid-Afrika se franchise-spanne gaan wees. Die Pumas, Griekwas en selfs Oostelike Provinsie kan moontlik ook daaraan deelneem.

“Ons gaan daarna moet kyk om vir Kade Wolhuter en David Meihuizen (slot) meer kanse te gee. Nama Xaba (flank) sal terug wees en van ons jong stutte moet meer speel,” het Dobson gesê.

Ruhan Nel hoort in die WP se beginspan, nie op die plaasvervangersbank nie. Foto: Gallo Images

Die baba gaan egter nie met die badwater uitgegooi word nie.

“Met Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff, Warrick Gelant en Seabelo Senatla op die veld, sou ons potensieel ’n ander span gewees het,” het Dobson gesê.

Sou Kolisi sy rugby vorentoe uit Durban speel, kan dit ’n goeie kans wees om Jaco Coetzee toe te laat om hom as nr.6-flank te vestig. Dis nou indien die kniebesering wat hy Saterdag opgedoen nie lang termyn van aard is nie.

Coetzee is ’n onderbenutte speler met leierseienskappe.

Daar is egter ook gerugte dat die Engelse Premierliga-klub Bath sy dienste probeer bekom.

Ruhan Nel se senioriteit moet ook nie op die plaasvervangersbank vermors word nie. Trouens, die nr.13-trui behoort syne te wees.

Meer oor:  Kade Wolhuter  |  Haaie  |  John Dobson  |  Siya Kolisi  |  Halfeindronde  |  Wp  |  Ruhan Nel  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.