Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP vereer 3 Bokke met groot pryse

Die Springbokke Pieter-Steph du Toit, Herschel Jantjies en Dillyn Leyds is Woensdagaand by die Kelvin Grove-klub in Nuweland deur die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) vereer vir hul puik spel vanjaar.

Pieter-Steph du Toit dryf die Stormers se agttal. Foto: Gallo Images

Jantjies is as die WP se Agterspeler van die Jaar aangewys en het ook met die gesogte prys van Spelers se Speler van die Jaar weggestap.

Du Toit is as die WP se Voorspeler van die Jaar vereer, terwyl Leyds prys as mees waardevolle speler gekry het.

Vir Du Toit is dit nóg ’n prys nadat hy ná die Wêreldbeker-toernooi as Wêreldspeler van die Jaar vereer is. Hy het ná goeie spel vir die Stormers in die Superreeks ’n uitstekende seisoen op toetsvlak beleef.

Herschel Jantjies. Foto: Gallo Images

Dieselfde geld Jantjies, wat ’n onverwagse held vir die Stormers was. Hy het daarna ’n groot indruk vir die Springbokke in die Rugbykampioenskap gemaak, maar het in die wedloop om die Bokke se nr. 9-trui, meestal tweede viool vir Faf de Klerk gespeel.

Die goeie nuus is ook dat hierdie drie Bokke vir die afsienbare toekoms nog in die Kaap gaan wees.

Du Toit en Leyds het groot oorsese aanbiedinge van die hand gewys om nuwe kontrakte met die Stormers en WP te sluit.

Jantjies is nog onder kontrak en die verwagting is dat dit in die nabye toekoms hernu sal word.

Die opkomende sterre Salmaan Moerat en Edwill van der Merwe is onderskeidelik as die WP se mees belowende voor- en agterspeler aangewys.

Met die dat Eben Etzebeth die WP verlaat het om by die Franse klub Toulon aan te sluit en Du Toit as ’n flank gekies gaan word, sal Moerat se visier op ’n gereelde plek in die Stormers se 23-tal wees.

Van der Merwe, wat puik afrond en die oog getref het met sy vaardighede in die lug, tel onder ’n handvol blitse wat om plekke in die Stormers se agterste driehoek gaan meeding.

Zelt Marais, die WPRU se president, sê dis “fantasties om erkenning te gee” aan die presteerders in die Kaapse rugbygemeenskap.

“Ons sien uit daarna om rugby op elke vlak te groei en versterk in ’n strewe om nuwe hoogtepunte te bereik,” het hy gesê.

Dillyn Leyds. Foto: Gallo Images

Die hoofpryse

Mees waardevolle speler: Dillyn Leyds

Spelers se speler van die Jaar: Herschel Jantjies

Beste voorspeler: Pieter-Steph du Toit

Beste agterspeler: Herschel Jantjies

Mees belowende voorspeler: Salmaan Moerat

Mees belowende agterspeler: Edwill van der Merwe

Vrouespeler van die Jaar: Nokubonga Siko

Klubrugbyspeler van die Jaar: Ruan Laubscher (Durbanville-Bellville)

Skolespeler van die Jaar: Dylan de Leeuw

Skeidsregter van die Jaar: Aimee Barrett-Theron

Meer oor:  Kaapstad  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Rugby  |  Westelike Provinsie  |  Stormers  |  Wp  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.