Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Streeptruie kry in drie wedstryde ’n 50-tal
WP verniel Bulle by die Cravenweek

’N Manjifieke Westelike Provinsie is gister vir die tweede agtereenvolgende jaar as die “nie-amptelike” kampioen van die o.18 Cravenweek-rugbytoernooi gekroon.

Die Streeptruie het ’n begeesterde vertoning in die eerste helfte van die Blou Bulle afgeweer om die Ligbloues se sterte met 56-31 te knoop.

WP se Cravenweek-span vier fees nadat hulle met die Blou Bulle afgereken het. Foto: Gallo

Dít nadat die Kapenaars rustyd met ’n naelskraapse voorsprong van 21-19 gaan water drink het.

Sodoende het hulle ook vyftigtalle in al drie hul wedstryde die week opgestapel nadat hulle Maandag en Woensdag onderskeidelik met Boland (50-24) en Vrystaat (51-14) klaargespeel het.

Die WP is in 2018 ook as die beste span van die toernooi aangewys nadat hy die Haaie in sy sagterplaas met 45-18 omgedop het.

Al skets die eindtelling ’n eensydige prentjie, kan die Blou Bulle egter hul koppe omhoog hou.

’n Skandalige vertoning verlede jaar in die Paarl, waartydens hulle al drie hul wedstryde verloor het, is uiteindelik iets van die verlede.

Willie Potgieter van die Blou Bulle gister in aksie. Foto: Gallo

Die klas van 2019 het hope veggees deur die loop van die toernooi gewys en boonop in hul eerste twee wedstryde groot agterstande uitgewis om onderskeidelik met verlede jaar se ander onoorwonne span, Grens (35-24), en die Streeptruie se gedugte B-span (36-34) af te reken.

Die WP se A-span is egter in ’n klas van sy eie.

Met die losskakel, Kade Wolhuter, wat die toutjies agter getrek het, het hy hopeloos te veel skietgoed gehad.

Wolhuter het 16 punte met sy skopskoen aangeteken nadat hy al sy span se drieë verdoel het vir ’n totaal van 50 in sy span se drie wedstryde – die meeste van enige speler.

Al gaan hy volgende jaar sy loopbaan in Frankryk by Montpellier voortsit, sal die keurders van hul sinne beroof wees as Wolhuter oor die hoof gesien word vir die Suid-Afrikaanse Skolespan.

Dan het die wenspan se slot Connor Evans en die agtsteman, Gideon van Wyk, ook skade aangerig voorlangs.

Vir die Bulle was sy twee kantmanne, MJ Janse van Rensburg en Simon Muller, uitstekend.

  • Die Cravenweek van 2019 sal altyd onthou word vir die treurige vertonings van die Goue Leeus en die Vrystaat.

Dié twee spanne was Saterdag op die laaste dag slaags, met albei wat verlore aansien moes herwin. Die Leeus was segeloos tot voor Saterdag, terwyl die Vrystaat Woensdag sleg teen die Westelike Provinsie op sy neus gekyk het.

Tog was dit die Johannesburgers, met hul kaptein en senter Henco van Wyk aan die spits, wat op die laaste dag met 49-26 koning gekraai het.

Van Wyk was die afgelope week ’n effense teleurstelling, maar teen die Vrystaat het hy met sy vaart, oog vir ’n gaping en verdediging beïndruk. Boonop het hy ook ’n slag of wat omgekeerde besit vir sy span bewerkstellig.

Die Leeus se agtsteman, Izan Esterhuizen, het ook die oog gevang wanneer hy met die bal onder sy arm behoorlik op loop gegaan het.

Tog was die Leeus se samespel soms ook maar effentjies, wat hulle verhoed het om meer punte aan te teken.

En die Vrystaat? Daar was net te veel gate in hul verdediging om enigsins die Leeus op hok te probeer hou.

Die losskakel, FC du Plessis, het wel goeie spel gelewer. Hy is gekritiseer nadat hy Maandag teen die Haaie ’n duikslag of twee verbrou het. Daarvoor het hy opgemaak deur ’n slag of wat ’n Leeu gelyk met die grond te maak.

  • Die Griffons se goeie toernooi het in ’n gemiddelde een ontaard nadat hy met 53-13 deur die Haaie geklop is.

Dít nadat die Perses hul eerste twee wedstryde teen die Oostelike Provinsie (28-24) en die Blou Bulle-vyftiental (50-22) gewen het. Dit was die KwaZulu-Natallers se enigste oorwinning.

Nie eens ’n driekuns deur die vuurvreter-flank, Renzo du Plessis, was genoeg om die Limpopo Blou Bulle van hul tweede nederlaag te red nie.

Hulle is met 43-15 deur die Luiperds oorrompel.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.