Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van . . . Albert Heenop gesels met Bossie Clarke
Bossie span sy vlerke vir dié wat swaarkry

Hy het op sy dag die WP help terugveg om ’n agterstand van 11 punte uit te wis vir ’n sensasionele oorwinning oor die All Blacks.

Deesdae help hy oudspelers om op te staan te midde van finansiële verknorsings – as besturende trustee van die Sport Leg­ends Trust.

En vir Bossie Clarke verskaf sy werk met oudspelers net soveel genot as toe hy op vleuel as WP-speler tussen 1975 en 1981 dikwels met sy vaart en swenk die opposisie in die lug laat gryp het.

Bossie Clarke saam met sy seuns, Daniel (links) en Ashley.

“Die bynaam kom van standerd drie af,” vertel Clarke (65).

“Ek en Kenny McEwan (oud-krieketspeler van die WP en OP en Wisden-Krieketspeler van die Jaar in 1978) was albei plaasjapies en het in die koshuis gebly in Queens College in Queenstown.

“Ek was op laerskool ’n redelike maer lat, maar met ’n effense groot agterstewe en het redelik goed gedoen met langafstandwedlope. Dis toe dat die onnie my ‘Boesman’ noem. ‘Boesman’ het mettertyd ‘Bossie’ geraak, en dit het vasgesteek.”

Hoewel hy Queens se eerste span in rugby verteenwoordig het, was Clarke nie van plan om aan te hou speel ná skool nie.

“Ek het meer in krieket en tennis belang gestel,” vertel hy.

“Toe ek egter op Stellenbosch aanland om BSc Agric te studeer, en ek sien hoe die ouens speel, het die rugbygogga my weer gebyt. Ek het ’n koshuiswedstryd vir Pieke gespeel, waarna Dok Craven my in die Maties se klubspanne opgeneem het.”

Clarke het deel uitgemaak van die beroemde Matie-masjien wat die jaarlikse nasionale klubkampioenskap in Durban oorheers het.

“Dit was ’n pretrit gewees,” onthou hy. “Maties het ’n besonderse span gehad, met hope talent.

“Die manier waarop Dok Craven ons afgerig het, was uitsonderlik.

“Hy het die wedstrydplan soos ’n skaakspel uiteengesit, sodat elkeen presies geweet het wat hom te doen staan.

“Tog het hy ook ruimte geskep vir die ouens om vir hulself te dink en te speel wat hulle voor hulle sien.

“Dok was ook ’n sielkundige en het presies geweet hoe om elke speler individueel te motiveer. Hy’t byvoorbeeld nooit vir my gesê dat ek goed gespeel het nie.

“Toe ek by Villagers aangesluit het nadat ek afstudeer het by Stellenbosch, het hy vir my gesê: ‘You’re going to lose every game from now on.’

Bossie Clarke
Bossie Clarke druk die eerste van die WP se twee drieë in hul sege oor die All Blacks in 1976. Duncan Robertson en Grant Batty is te laat om te keer. Foto: Jan Hamman, Beeld

“Villagers het egter die volgende twee kragmetings met Maties gewen, waarop sy reaksie die volgende was: ‘I’m obviously a good coach. You did well!’

“Dit was die tipe verhouding wat ek en Dok gehad het.”

Clarke het die WP in 64 wedstryde verteenwoordig, wat drie Curriebeker-eindstryde ingesluit het.

Die eindstryde van 1976 en 1980 het die WP albei verloor, teen onderskeidelik Vrystaat en Noord-Transvaal, terwyl WP in 1979 die titel met die Ligbloues gedeel het.

Net om weer naby aan die familie te wees, is ook lekker.

Hy het WP ook op die krieketveld verteenwoordig – tien wedstryde vir die A-span en 60 vir WP “B”.

Die hoogtepunt van Clarke se rugbyloopbaan was die wedstryd teen die All Blacks van 1976. En die berugte Craven-sielkunde het weer ’n rol gespeel.

“Dok het my voor die wedstryd ingeroep en gevra: ‘What are you going to do? You’re not good enough to play against Bryan Williams (legendariese All Black-vleuel).’

“WP was halfpad deur die tweede helfte 0-11 agter, met Nieu-Seeland wat reeds twee drieë gedruk het, terwyl die WP-stelskopper Robbie Blair met vyf pogings pale toe misluk het in die eerste skof.

“Min mense het geweet dat die bal pap was,” vertel Clarke.

“Robbie moes halftyd kleedkamer toe hol, ’n pomp soek en die bal stywer pomp!”

Ná rustyd het die WP vlamgevat. Clarke en sy vleuel-maat Chris Pope het gaan druk en Blair het alles oorgeskop. Pope se drie was boonop in die hoekie, maar Blair was in die kol en die WP het 12-11 gewen!

Clarke is deesdae direkteur van Pan African Foods & Pharma, wat spesialiseer in perdevoer en troeteldierkos.

Ashley (35), oudste seun van Bossie en Louanne Clarke, wat vanjaar 40 jaar getroud is, het Curriebeker-rugby vir WP en SWD gespeel, voordat hy Frank­ryk toe is waar hy agt jaar lank vir Racing Métro gespeel het. Kleinboet Daniel (31) het ook beroepsrugby gespeel in onder meer Frankryk en Ierland. Daniel se tweelingsussie, Sydne, is getroud met die voormalige Springbok-slot Hottie Louw.

Clarke is ook die oudste teler van Ile de France-skape in Suid-Afrika, maar iets wat hom besonder na aan die hart lê, is sy betrokkenheid by die Sport Leg­ends Trust.

“Ons het die trust in 2002 op die been gebring om my oud-spanmaat Robert Cockrell (Springbok-haker, 1974-’81) se familie finansieel by te staan ná sy afsterwe.

“Rob se situasie het my diep geraak en benadruk dat heelwat sportmense, nadat hulle ophou deelneem en uit die kalklig verdwyn, sukkel om kop bo water te hou.

“Die trust het van krag tot krag gegaan en bied bystand aan oud-deelnemers aan alle sportsoorte – nie slegs rugby nie.”

Só kan jy helde van weleer help
Die Sports Legends Trust het al 85 sporthelde bygestaan wat weens siekte of geldelike probleme deur diep waters gegaan het. 

“Ons word bygestaan deur dokters wat hul dienste teen geen of minimale vergoeding aanbied, asook mediese maatskappye wat kunsledemate en ander noodsaaklikh

ede teen afslag verskaf,” vertel Bossie Clarke.

“Die oud-Bokslot Kevin de Klerk is ook ’n trustee, en ons ambassadeurs sluit in Frik du Preez (rugby), Barry Richards (krieket), Mike Madsen (hokkie) en Kevin Curren (tennis).”

Enigeen wat hand kan bysit, veral medici wat kan help met heup- en knievervangings, kan Clarke by 082 441 7748 of bclarke@mweb.co.za kontak.

Meer oor:  Albert Heenop  |  Wat Het Geword Van
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.