Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-voorsitter: Diverse span is ’n beter span

Rugby-ondersteuners moenie bang wees vir transformasie nie, glo die voormalige premier van die Wes-Kaap en die nuwe voorsitter van WP Rugby se sakevleuel, Ebrahim Rasool. Brenden Nel het met hom gesels.

Ebrahim Rasool, nuwe voorsitter van die WP Rugby se sakevleuel. Foto: Getty

Die mite dat “hoe swarter jy is, hoe swakker is jy” moet die nek ingeslaan word.

Rasool het sy visie vir sy voorsitterskap in ’n gesprek met Rapport uitgestippel, en sien homself as moontlike vredemaker in die WP se strydende rugbykringe.

Rasool glo vrede – en transformasie – is moontlik, selfs met ’n raad wat gedurig in die nuus is weens interne gevegte, en wat drie direkteure in die laaste maand verloor het ter wille van transformasie.

“Met transformasie moet almal op dieselfde bladsy wees,” het hy aan Rapport gesê.

“Wat ek wil doen, is om seker te maak wanneer ons ’n uitvoerende hoof aanstel, sal dit iemand wees wat samehorigheid voorstaan en nie verdeeldheid nie.”

Rasool glo mense se begrip van transformasie is verkeerd.

“Vir my is transformasie die balans tussen getalle en gehalte. Wat getalle betref, het ons Wêreldbeker-wenspan gewys dit beteken nie hoe swarter hoe swakker nie. Daar is ’n les uit te leer.

“Dan is dit die gehalte van bestuur, van besluite, van spelpatroon, van die vertoning op die veld wat tel. Jy kan nie die een hoër ag as die ander nie. Jy kan die swartste span hê, wat die borge laat verdwyn. En jy kan die witste span hê wat die toeskouers wegjaag.

“Êrens in die middel is daar ’n punt waar gehalte en getalle mekaar aanvul.”

Om dít te doen, wil hy ook die sogenaamde Cape Crusaders – Nieu-Seelandse ondersteuners onder die bruin bevolking – laat oorskakel om die WP en Stormers te ondersteun.

“Die WP het van die beste skares ter wêreld. Soms maak ek ’n grap en sê daar is meer Cru­saders op Nuweland as wat daar in Canterbury is. Dit is die soort handelsmerk wat ons het. Ek dink daar is karakters in die Wes-Kaap, daar is ’n diverse ondersteuningsbasis. Dit is ’n sterk handelsmerk wat van grondvlak tot elite-vlak deurloop.

Ons moet talent kweek sodat ons die eerste seggenskap van daardie talent het. Ons is nie ’n kweekskool vir die Haaie of Bulle nie.

“Ons moet dit posisioneer sodat dit veel meer bates inbring as wat dit tans doen. Ons sal ons borge moet hou en waarde vir hulle gee. Ons sal moet aanhou om die toeskouers opgewonde te maak.

“Ons moet talent kweek sodat ons die eerste seggenskap van daardie talent het. Ons is nie ’n kweekskool vir die Haaie of Bulle nie.

“Die spelers moet voel hulle is die kern van die WP, hulle is die vertoonvenster. Rugby op voetsoolvlak hier hang van hul prestasie af.

“Die spelers bepaal die aanloklikheid van die produk vir borge en beleggers. Dit is daarom belangrik om na die spelers se welstand, op en van die veld af, om te sien.

“Dit moet laastens oor bekers gaan. Ons wil bekers wen en kampioene wees.”

Om dit te kan doen, wil Rasool diep delf en die WP transformeer.

“Jy moet na die kern toe gaan oor hoekom daar nog Cape Cru­saders in die Kaap is. Ons moet seker maak dat WP op alle vlakke – van die speelveld tot die raadsaal – transformeer. Die mense van die Kaap moet hulself kan sien in WP Rugby. Dit sal hulle lojaal maak.

“Dit moet met deernis gedoen word om seker te maak dat die groot ondersteuning wat ons uit die tradisionele ondersteuners kry, behou word.

“Ons trek na ’n groter stadion en 38 000 toeskouers is nie meer genoeg nie. Ons sal binnekort moet seker maak dat ons (by die Kaapstad-stadion) 60 000 ondersteuners lok.”

Die finansiële volhoubaarheid van die WP is intussen groot nuus. Die Amerikaanse konsortium MVM Holdings wil $6 miljoen betaal om ’n beherende aandeel in die WP se sakevleuel te bekom, maar Rasool meen dit is te min vir die WP se waarde – selfs al het hy geen bates nie.

Ons moet die waardigheid terugbring in WP Rugby. Ons moet onderhandel, maar ons moet vrede terugbring in die raadsaal.

“Ek dink dit is nie net onderwaardeer nie, ek dink al die onderlinge struwelinge in ons raadsaal, waaroor ons meer in die koerante was as oor sake op die speelveld, het die indruk gewek dat ons in ’n penarie is. Nou kan enigiemand dink kom ons gaan help daardie donders. Hulle sal enigiets vat,” sê Rasool.

“Ons moet die waardigheid terugbring in WP Rugby. Ons moet onderhandel, maar ons moet vrede terugbring in die raadsaal.”

Rasool beweer dat “alles op die tafel is”, insluitend die eiendomstransaksie tussen die WP Rugbyunie en Flyt oor die herontwikkeling van Nuweland.

“Moenie kyk na die huidige eiendomsooreenkoms nie – kom ons sê alles is op die tafel. Ons het, net soos met MVM, ooreenkomste wat ons moet nakom. Met Flyt het ons ooreenkomste om na te kom. Dis hoe om albei te oortuig daar is meer waarde uit ’n wysiging tot ons denke.”

Rasool het sy verlede – die bruinkoevert-skandaal waarvoor hy deur die ANC in die Wes-Kaap as premier herroep is – as “verdagmakery” bestempel, en glo juis sy jare as Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA is ’n beter voorbeeld van wat hy kan bied. (Daar was beweringe dat hy twee joernaliste van die Cape Argus betaal het om sy beeld te poets.)

“Daar is ’n verskil tussen skandaal en verdagmakery. Ek het aanhoudend gesê dat enigiemand wat ’n konkrete ding teen my het, ’n klag by die polisie kan gaan indien. En 12 jaar later kan ek met gemak sê niemand het dit al gedoen nie – al het hulle al die bronne tot hul beskikking.

“Tweedens, selfs my politieke opponente sal baie maklik kan sê die Wes-Kaap is (in my tydperk) goed bestuur.

“Daar is ook baie water onder die brug sedert ek in die ANC-struktuur betrokke was.

“Vir my is dit ’n verlossing om nie by enige verteenwoordigende struktuur van die ANC betrokke te wees nie. Dit gee my die vryheid om te doen wat gedoen moet word.”

Meer oor:  Voorsitter  |  Transformasie  |  Ebrahim Rasool  |  Gesprek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.