Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP vrees Ashwin-herhaling

Twee weke nadat die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, gesê het dat hy oor die bestuurspan beskik om aanstaande jaar welslae in die Superreeks te behaal, is dié Kaapse rugbyspan geruk deur onmin in sy afrigtersgeledere.

Paul Treu, hulpafrigter van die Stormers. Foto: Gallo Images

Paul Treu, ’n hulpafrigter van die Stormers, het glo Woensdag uit ’n hersieningsvergadering ná die span se onsuksesvolle veldtog gestorm.

Terwyl Treu, ’n voormalige Blitsbok-afrigter, Vrydag nie kommentaar wou lewer nie, het hy glo gesê dat hy “genoeg daarvan gehad het om sleg behandel te word en dat hy dit nie meer gaan vat nie”.

Treu het Donderdag glo ook nie opgedaag vir werkvergaderings nie.

Sy optrede blyk ’n bevestiging te wees van die gerugte wat in April kop uitgesteek het dat al die lede van die afrigtingspan nie om dieselfde vuur sit nie.

Treu het daardie gerugte destyds verwerp en gesê dat die afrigtingspan uit een mond praat en ’n verenigde groep is.

Die aard van Treu se ontevredenheid is nog nie bekend nie, maar na verneem word, stamp Treu en die Stormers se Nieu-Seelandse hulpafrigter, Paul Feeney, koppe. Daar was ook gerugte dat hulle haaks was terwyl die Stormers en Haaie onlangs op Nuweland gespeel het.

Die aard van Treu se ontevredenheid is nog nie bekend nie, maar na verneem word, stamp Treu en die Stormers se Nieu-Seelandse hulpafrigter, Paul Feeney, koppe.

Onder die groot probleme vanjaar was die deurmekaarspul met die nuwe posbeskrywings vir die hulpafrigters. Dit het ’n oorvleueling tussen Treu en Feeney se rolle tot gevolg gehad.

Treu was die “hulpafrigter vir gestruktureerde spel”. Sy pligte het ingesluit om die span tot die derde fase op die aanval af te rig en op verdediging van die eerstefase-spel ná die vaste fasette.

Feeney se taak was aanval en verdediging uit ongestruktureerde spel.

Dis ver verwyder van die gewone struktuur wat eenvoudig ’n agterlyn- en verdedigingsafrigter insluit.

Thelo Wakefield, die president van die Westelike Provinsie Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Thelo Wakefield, die Westelike Provinsie Rugbyunie se president, het Vrydag aan Netwerk24 bevestig dat daar ’n voorval was en dat hy nie gras onder sy voete gaan laat groei om agter die kap van die byl te kom nie.

“Ek is deeglik bewus daarvan en sal kyk wat ek kan doen om die kwessie so gou moontlik op die spits te dryf,” sê Wakefield.

Wakefield sê hy en die uitvoerende hoof, Paul Zacks, sal Woensdag met die Stormers se afrigtingspan vergader oor die kwessie. Treu is tans in Durban en keer vroeg aanstaande week terug.

“Ons gaan met die hele afrigtingspan vergader en sal dit van daar verder vat,” sê Wakefield.

Gert Smal, die WP se direkteur van rugby wat verantwoordelik is vir afrigtingstrukture, het gesê die kwessie moet “sensitief” benader word.

“Dit sal in ons strukture hanteer word,” sê hy.

In die WP heers daar groot kommer oor hoe dié kwessie kan uitkring, veral in die nadraai van die Ashwin Willemse-voorval, waar die voormalige Bok-vleuel regstreeks op TV vir Nick Mallett en Naas Botha daarvan beskuldig het dat hulle neerbuigend teenoor hom was en toe uit die SuperSport-ateljee gestap het.

Treu word in die WP gerespekteer vir sy werketiek en as bekwaam beskou. Sy persoonlikheid verskil glo hemelsbreed van dié van ander bestuurslede, wat ’n gemakliker werksomgewing nastreef.

Treu word in die WP gerespekteer vir sy werketiek en as bekwaam beskou. Sy persoonlikheid verskil glo hemelsbreed van dié van ander bestuurslede.

Hoe dit ook al sy, sal dié kwessie sentraal wees wanneer die Stormers se mislukte veldtog in die komende dae deur die bestuurspan, Smal en direksie in oënskou geneem word.

Fleck is nog ’n jaar gekontrakteer en die verwagting is dat hy as hoofafrigter behou gaan word. Hoe die res van die bestuurspan daarna gaan uitsien, is ná die Treu-voorval egter ’n ope vraag.

Meer oor:  Kaapstad  |  Paul Feeney  |  Rugby  |  Thelo Wakefield  |  Wpru  |  Ashwin Willemse  |  Stormers  |  Paul Treu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.