Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP: Wederom, Nuweland

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) staan gereed om Nuweland vaarwel toe te roep en die Kaapstad-stadion sy tuiste te maak.

Die Kaapstad-stadion kan binnekort die Stormers en Westelike Provinsie se nuwe tuisveld wees. Foto: Gallo Images

Terwyl ’n ooreenkoms met die Kaapstad-metro nog nie onderteken is nie, het die WPRU se president, Thelo Wakefield, Vrydagmiddag in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gesê die skuif sal “definitief” gedoen word.

Dis volgens hom ’n “sakebesluit” en sal slegs ontspoor indien die Kaapstad-metro se bepalings die WP in ’n swakker posisie sal laat. Onderhandelinge verloop egter vlot.

Die Stormers en WP sal wel aanstaande jaar nog op Nuweland speel. Wakefield kon nie uitsluitsel gee of die skuif so vroeg as 2019 gemaak gaan word nie. Finansiële realiteite maak dit egter vir die WP belangrik om gouer eerder as later Groenpunt toe te trek.

Die WP Rugbyunie se president, Thelo Wakefield.Foto: Gallo Images

“Dis nie ’n geheim dat ons met die Kaapstad-metro gesels nie en ek glo ons sal binnekort baie naby aan ’n oplossing wees. Vandaar my stelling dat die toets vroeër vandeesmaand moontlik die laaste tussen die Springbokke en All Blacks op Nuweland was,” sê Wakefield.

“Dit baat nie ek vertel vir ons ondersteuners ’n leuen nie. Hulle moet weet waarheen ons op pad is.

“Ek weet daar is emosies betrokke, maar op die ou end betaal dit nie die rekeninge nie. Dis onafwendbaar dat ons gaan skuif.”

Volgens Wakefield moet baie instandhoudingswerk by Nuweland gedoen word en dit kos die WP byna R8 miljoen per jaar om wedstryde aan te bied. ’n Nuwe veld sal ook teen R19 miljoen gelê moet word indien die WP nie skuif nie.

Hy het ook daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie die Kaapstad-stadion, nie Nuweland nie, in sy bod vir 2023 se Wêreldbeker-toernooi ingesluit het.

Die geriewe van wêreldgehalte in die Kaapstad-stadion maak ’n skuif vir die WP ook baie aanloklik.

Die uurglas is besig om leeg te loop vir Nuweland as die WP Rugbyunie se tuiste. Foto: Gallo Images

“As ons visie is om die leidende unie ter wêreld te wees, moet ons ook geriewe van wêreldgehalte hê. As jy oor die wêreld heen kyk, kom ons kleedkamers en geriewe nie naby aan hedendaagse stadions nie. Ons moet gaan waar dit aanlokliker en mooier is, en ons wêreldrugby kan aanbied,” sê Wakefield.

“Dit sal ook vir ons losie- en seisoenkaartjiehouers wonderlik wees as ons geriewe van wêreldgehalte het.”

* Intussen het Wakefield ook die WP se Curriebeker-span geluk gewens dat hulle Saterdag ’n halfeindstryd op Nuweland gaan speel.

“Alle lof aan John Dobson wat die span kon afrig en motiveer om verlede naweek die Haaie in Durban te klop om vir ons ’n tuishalfeindstryd te gee. Dit is ’n goeie manier om ons ondersteuners vir hul volgehoue steun te bedank. Nou hoop ons net die span kan die wa deur die drif trek.”

Daar is Vrydag ook werksessies met personeel gehou oor die WP se strategiese plan, Towards 2020.

“Ons was ’n jaar gelede in likwidasie en ons moet almal skouer aan die wiel sit om die unie ’n hupstoot te gee. Nuweland en die WP het ’n trotse geskiedenis en ons kan nie toelaat dat negatiewe dinge daaraan afbreuk doen nie,” sê hy.

“Ons moet almal saamwerk om die gloriejare deur die wen van kompetisies terug te bring. Ons moet sorg dat die maatskappy kontantreserwes het en dat ons klubstrukture sterk en gesond bly.”

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Nuweland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.