Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP wil groot slot uit Skotte se kloue hou
Die groot WP-slot David Meihuizen is in die Skotse Rugbyunie se visier. Foto: Gallo Images

John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie, het sy span vir Vrydagaand se Curriebeker-wedstryd teen die Pumas op Nuweland gekies deels met die idee om die talentvolle slot David Meihuizen uit die Skotse Rugbyunie se kloue te hou.

Meihuizen (23), wat aan die Hoër Jongenskool Paarl gematikuleer het, se ma is in Skotland gebore en die WP voer ’n stryd teen die pond om aan sy dienste vas te klou.

Dobson meen derhalwe dit sal die Kaapse unie se saak versterk as dié hemelbesem meer gereeld speel. Hy doen dit vandeesweek in die plek van JD Schickerling, wat ’n blaaskans gegun word.

“David is werklik ’n opwindende speler in wie daar oorsee baie belangstelling is. Dit gaan moeilik wees om aan hom vas te klou as hy nooit speel nie,” het Dobson Woensdag met die aankondiging van sy span gesê.

“Hy gaan ’n besluit oor sy toekoms moet neem en ons wil hom bitter graag hier hou. Soos ek dit verstaan, kwalifiseer hy om vir Engeland of Skotland te speel. Daar is veral belangstelling uit Skotland en daar was al formele gesprekke met sy agent. Daar loop nie baie slotte van 2,08 m en 123 kg in Skotland rond nie.

Daar is veral belangstelling uit Skotland en daar was al formele gesprekke met sy agent. Daar loop nie baie slotte van 2,08 m en 123 kg in Skotland rond nie.
John Dobson

“Ek kan nie tot volgende jaar wag nie. David kan dalk dan na my toe kom en sê dat die bietjie speelkans wat hy in die CB-reeks gekry het nie genoeg vir sy ontwikkeling was nie.”

Dobson baklei ook aan ander fronte om spelers te behou. Terwyl daar nog nie gesprekke gevoer mag word nie, sal dit ’n uitgemaakte saak wees dat die Haaie ’n sterk poging gaan aanwend om Siya Kolisi, die WP- en Springbok-kaptein, se dienste te bekom indien die Amerikaanse konsortium MVM Holdings daar gaan belê.

“Daar is soveel rook, dat ’n mens vermoed daar vuur moet wees,” sê Dobson oor dié gerug.

Siya Kolisi

“Geen speler het vir my formeel gesê dat hy weggaan nie, maar ek weet Harlequins maak jag op ’n paar van ons voorspelers, daar’s belangstelling in Siya en daar’s ’n hardnekkige gerug oor Damian Willemse wat dalk Bulle toe gaan. Die oordragvenster maak egter eers oor ’n paar maande oop.

“Ek het vir Siya Dinsdag gevra of ons moet gesels en hy het gesê ons moet eers deur Vrydag kom, wat die verantwoordelike en volwasse ding is om te doen.”

Beserings aan Seabelo Senatla, Ruhan Nel en Juarno Augustus beteken dat drie van Dobson se veranderinge aan sy span noodgedwonge was.

Jaco Coetzee vervang vir Augustus, Tristan Leyds vir Senatla en Michal Haznar vir Nel.

Dan gaan Rikus Pretorius begin op binnesenter in die plek van Dan du Plessis, Paul de Wet vir Godlen Masimla op skrumskakel vervang en dra Scarra Ntubeni die nr.2-trui in Bongi Mbonambi se plek.

Hierdie is dus ’n WP-span waarvan uitsluitlik die voorry van Steven Kitshoff, Ntubeni en Frans Malherbe ’n gevestigde kombinasie is. Aan die een kant kan dit die Streeptruie kwesbaar maak, maar ’n bietjie jeugdige entoesiasme kan dalk ook help.

Dit sal vir ons impak gee, iets wat ons verlede week aan ontbreek het.
John Dobson

Die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies is op die plaasvervangersbank en sal die nr.9-trui dra wanneer die WP op 26 Desember teen Griekwas speel.

“Dit help om vir Herschel, Ali Vermaak en Bongi op die bank te hê. Dit sal vir ons impak gee, iets wat ons verlede week aan ontbreek het,” sê Dobson.

Westelike Provinsie is:
Damian Willemse, Angelo Davids, Michal Haznar, Rikus Pretorius, Tristan Leyds, Tim Swiel, Paul de Wet, Jaco Coetzee, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), David Meihuizen, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS (uit): Bongi Mbonambi, Ali Vermaak, Lee-Marvin Mazibuko, Chris van Zyl, Johan du Toit, Herschel Jantjies, Kade Wolhuter, Dan du Plessis, Kwenzo Blose, Marcel Theunissen, Sihle Njezula.
 
Meer oor:  John Dobson  |  Siya Kolisi  |  Kaapstad  |  Skotland  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Slot  |  Kontrak  |  Oorsee  |  Westelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.