Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP wil salf op oop wond smeer

Dit was vir die Stormers moeilik om vrede te maak met die geweldige drag slae wat hulle verlede maand in hul Superrugby Unlocked-wedstryd by die Bulle op Loftus Versfeld in Pretoria gekry het.

Die Stormers-hemelbesems Salmaan Moerat (links) en JD Schickerling oefen Dinsdag in die Moederstad se buitengewone eendeweer. Foto: Gallo Images

Maar, sê die brekerslot Salmaan Moerat, daar is ná daardie nederlaag van 6-39 reeds gepraat oor die geleentheid wat hulle in die kleure van die Westelike Provinsie gaan kry om sake op Nuweland reg te stel.

“Uiteraard is dit baie taai om so ’n nederlaag te verwerk, maar ek onthou duidelik ná die wedstryd was die een ding wat ons genoem het, dat ons opgewonde is om binne vier weke weer teen die Bulle te kan speel. Hier is ons nou,” sê Moerat.

“So, dis opwindend en iets waarna ons uitsien. Jy kry nie altyd so ’n geleentheid nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om goed voorbereid te wees. Ons kan nie wag nie.”

Die geskiedenis in wedstryde tussen die Streeptruie en Ligbloues die afgelope dekade wys dat daar van een wedstryd na die volgende ’n geweldige swaai kan wees.

In 2018 was dit op Loftus Versfeld vir die Blou Bulle ’n genadedood toe hul wedstryd teen die WP met rustyd weens slegte weer gestaak is. Toe was die WP met 34-7 voor.

Die volgende week het die Bulle egter byna ’n groot skok op Nuweland veroorsaak met die WP wat bykomende tyd nodig gehad het om hul halfeindstryd met 35-32 – danksy ’n strafdoel deur SP Marais – te wen. Het Manie Libbok nie in die doodsnikke van gewone speeltyd skeef gekorrel nie, sou die Bulle daardie wedstryd gewen het.

“Dit wys jou net hoe jy die een week kan oorheers en die volgende naweek aan die ontvangkant kan wees. So, ons is baie opgewonde oor hierdie naweek,” sê Moerat.

Die WP het sedert 2010 nog nie ’n CB-wedstryd op Nuweland teen die Pretorianers verloor nie, maar verlede maand se groot nederlaag in die Unlocked-wedstryd, wat vir alle praktiese doeleindes deel is van die stryd om die Curriebeker, was nie ’n geïsoleerde geval nie.

• Die groot swaaie in momentum die afgelope dekade was as volg:

2011: WP wen met 35-7 op Nuweland en Bulle daarna met 28-20 op Loftus.

2012: WP wen met 42-6 op Nuweland en Bulle daarna met 26-13 op Loftus.

2015: Bulle wen met 47-29 op Loftus en WP daarna met 29-14 op Nuweland. Die WP het die Bulle wel daardie jaar met 23-18 in ’n halfeindstryd op Loftus geklop.

Verlede jaar se Superreeks was ook ’n sprekende voorbeeld van hoe dinge vinnig kan verander. Die Bulle het met 40-3 op Loftus gewen en die Stormers daarna met 24-23 op Nuweland.

’n Wegholoorwinning enige kant toe word nie hierdie naweek verwag nie. Die WP kan nie verwag om dit te doen teen ’n span wat deur Jake White afgerig en deur ’n yster soos Duane Vermeulen gelei word nie.

Wat die Kapenaars wel sal hoop gee, is die standaard van hul vertonings in hul laaste twee wedstryde teen Griekwas en die Cheetahs. In Kimberley het die Stormers uit hul dwangbuis gewikkel om met 39-6 te wen en die oorwinning van 30-13 oor die Cheetahs kon selfs groter gewees het as hulle etlike aanvalskanse beter benut het.

“Ons kon baie meer punte aangeteken het, maar terselfdertyd het ons nog baie potensiaal om te ontsluit, wat opwindend is,” sê Moerat.

“Ons sien uit daarna om aan te hou momentum bou.”

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Salmaan Moerat  |  Stormers  |  Wp  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.