Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klubs wéér in opstand oor Zelt Marais

Die president van die WP Rugbyunie, Zelt Marais, het dié week klubs in die unie in rep en roer gehad nadat hy ’n brief uitgestuur het en dit as die “waarnemende uitvoerende hoof” van WP geteken het.

Zelt Marais is aangestel as waarnemende uitvoerende hoof van die WP.

In die brief, wat ook deur Marais se persoonlike assistent, Ruben Machelm, wat tans as waarnemende uitvoerende hoof van die WP se sakevleuel dien, geteken is, word opdrag gegee dat alle klubwedstryde in die provinsie gestaak word.

Die feit dat die klubs nooit ingelig is oor ’n besluit om Marais ook as waarnemende uitvoerende hoof aan te stel nie, asook of sy aanstelling deur die uitvoerende bestuur goedgekeur is, het gemoedere in klubgeledere hoog laat loop.

Marais is midde-in binnegevegte in die WP-unie. Die provinsie is gewikkel in verskeie hofsake – met die skadevergoedingseis van Flyt Property van meer as R650 miljoen wat oor die WP-unie se kop hang.

Dit kom teen die agtergrond van die skorsing van een van Marais se bestuurslede, Junaid Moerat, wat verlede week in die hooggeregshof uitgespeel het. Moerat, wat geskors is omdat hy na bewering inligting aan Rapport oor ’n ooreenkoms tussen die WP en Stade Français gelek het, het verlede week die eerste ronde gewen toe hy ’n interdik gekry het dat die dissiplinêre verhoor nie moet voortgaan nie. Die tweede gedeelte van die hofsaak word in Augustus voortgesit.

Tog het Marais dié week sy hakke ingeskop en ’n dagvaarding van R500 000 vir laster op Moerat laat bedien.

Die dagvaarding kom nadat Moerat ’n brief oor sy skorsing vir die klubs gestuur het en Marais daarvan beskuldig het dat hy nie die waarheid vir die klubs vertel het nie.

Die feit dat Marais nou waarneem as die uitvoerende hoof, het in klubgeledere alarms laat afgaan, veral oor hoe die besluit geneem is, en of Marais daarvoor vergoed word. Die klubs wys daarop dat Marais as beide president en uitvoerende hoof dien, terwyl sy assistent die uitvoerende hoof van die sakevleuel is. Marais is ook ’n direkteur van die sakevleuel.

Junaid Moerat Foto: Argief

“Dit wil lyk asof hy soos ’n diktator aangaan,” het een klubamptenaar aan Rapport gesê, veral omdat dit blyk dat Marais self besluit het om Moerat te skors.

Notules van WP Rugby se uitvoerende raad wys dat die raad opdrag gegee het dat die saak teruggetrek moet word, maar dat Marais geweier het.

Nog ’n klub – Caledonian Roses RFC – het dié week ’n brief aan die WP Rugbyunie gerig en gevra vir ’n spesiale algemene vergadering om ’n mosie van wantroue teen Marais in te stel. Dit volg op minstens agt klubs wat die afgelope paar maande soortgelyke stappe wou neem.

WP sal eers so ’n vergadering kan instel as tien klubs dit aangevra het.

In die brief, wat aan Rapport gestuur is, beweer die klub se president, Moegamat Stuurman, dat die WP se finansiële komitee sy werk gestaak het en dat hy, as ’n verkose lid van die komitee, deelname aan vergaderings geweier is.

Hy beskuldig verder die WP van “growwe nalatigheid gebaseer op die grondwet van die WPRVU en sy verkose lede om in verskillende portefeuljes wat deur die grondwet ingestel is, te dien”.

Stuurman beweer verder Marais het nie sy beloftes nagekom om aandag en terugvoer te gee ná vrae van klubs oor die finansiële situasie van die unie nie. Ook dat daar met die notules van die algemene raad “gepeuter is”.

“Die bevelslyn maak ’n bespotting van ons grondwet waar niks bestuur word volgens wat in die hoofraadsvergaderings ooreengekom is nie. Daar is eenvoudig nie meer vertroue oor nie.”

Marais het nie op vrae van Rapport geantwoord nie.

Meer oor:  Zelt Marais  |  Wp  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.