Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Salmaan se oom kan hoof word

Die veldtog om ’n nuwe uitvoerende hoof vir die WP-Rugbyunie aan te stel voor ’n moontlike belegging deur ’n Amerikaanse konsortium, het die afgelope week stoom opgetel.

Rapport verneem die grondslag word gelê vir Junaid Moerat, oom van die Stormers-slot Salmaan Moerat, om die pos te beklee wat vakant is sedert Paul Zacks se bedanking in Januarie.

Moerat is ’n lid van die uitvoerende komitee van die WPRU en dien ook in die direksie van die WP se sakevleuel.

Hoewel hy wyd beskou word as ’n vertroueling van Zelt Marais, president van die WPRU, het Moerat gister aan Rapport gesê hy is sy eie man.

“Ek volg nie blindelings nie. Ek neem besluite gegrond op wat ek glo is die beste vir rugby en WP. My besluite is nie gegrond op individue nie.”

Rapport verneem die besluit van Hennie Heymans, DHL se grootbaas in Suid-Afrika, om uit die WP-direksie te bedank, baan die weg vir Moerat se aanstelling. Heymans was die voorsitter van die direksie se menslikehulpbronne-komitee en is beskou as ’n moontlike struikel-blok vir Moerat se aanstelling.

Ek volg nie blindelings nie. Ek neem besluite gegrond op wat ek glo is die beste vir rugby en WP.

Opmerkings die afgelope week deur die voorsitter van die WP se sakevleuel, Ebrahim Rasool, dat die nuwe uitvoerende hoof van die WP oor “meer as die tradisionele eienskappe moet beskik”, word deur ingeligtes vertolk as ’n aanduiding dat Moerat in die binnebaan is vir die pos.

“Die uitvoerende hoof hoef nie ’n rekenmeester te wees nie, jy kan altyd so iemand inbring. Maar hy moet ’n balansstaat kan lees. Hy hoef nie ’n bemarkingsghoeroe te wees nie, maar hy moet genoeg van bemarking weet,” het Rasool Vrydag in ’n onderhoud met die Cape Times gesê.

“Die uitvoerende hoof moet kennis hê van rand en sent, bakstene en sement, eiendom, beleggings en markte en – baie belangrik – tegnologie en kommunikasie.”

Junaid Moerat en sy vrou, Tasneem.

Moerat (36), wat tans in beheer is van die WP se e-sport-bemarking, het ’n BA-graad van die Universiteit van Kaapstad en het luidens sy LinkedIn-profiel ook ’n aantal aanlyn kursusse van ses weke gedoen wat deur Harvard en MIT geakkrediteer is.

“Die posbeskrywing word mooi uiteengesit om Junaid soos ’n handskoen te pas. Dit kom al ’n lang pad,” het een ingeligte gesê.

Rasool het in sy onderhoud bygevoeg dat ouderdom nie ’n struikelblok moet wees nie en het verwys na die feit dat Eduard Coetzee (41) en Edgar Rathbone (33) op jong ouderdomme as uitvoerende hoof van onderskeidelik die Haaie en die Bulle aangestel is. Coetzee het ’n doktorsgraad in leierskapstudies. Rathbone is ’n geoktrooieerde rekenmeester.

Met ses onafhanklike direkteure wat onlangs die WP-sakevleuel verlaat het, lyk dit of Marais sy magsbasis gekonsolideer het. Die aanstelling van ’n uitvoerende hoof kan egter verreikende gevolge inhou vir die beoogde R100 miljoen-inspuiting van MVM Holdings, wat tans met die WP onderhandel om ’n meerderheidsaandeel in die sakevleuel te koop.

Die onderhandelinge sloer omdat die WP weier om beheer oor rugbybesluite aan ’n buite-aandeelhouer oor te gee.

MVM se Marco Masotti wou by navraag nie kommentaar lewer op die planne om Moerat aan te stel nie, maar het by ’n vorige geleentheid gesê ’n belegging van daardie omvang moet met beheer gepaard gaan en die vermoë om mense in sleutelposte aan te stel.

’n Ingeligte in WP-rugbykringe het aan Rapport gesê die MVM-transaksie is “dood” as beheer nie afgestaan word nie.

Moerat het aan Rapport gesê hy het hom sedert Januarie aan alle direksie-gesprekke oor die rol van uitvoerende hoof onttrek. “Ek wil nie kommentaar lewer oor wat die voorsitter gesê het nie.”

Marais en Rasool het nie op Rapport se versoeke vir kommentaar geantwoord nie.

Meer oor:  Uitvoerende Hoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.