Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Zelt moet dalk self pa staan vir eis

Die WP-rugbyunie (WPRU) se president, Zelt Marais, kan moontlik persoonlik aanspreeklik gehou word vir die skadevergoedingseis wat WP se eiendomsvennoot, Flyt Property, teen die unie ingedien het.

WPRU-president Zelt Marais.

Rapport verneem by twee bronne dat Marais geïsoleer word deur lede van die WPRU se hoofraad. Van dié lede het glo reeds gesprekke gevoer oor die moontlikheid dat Marais se optrede rakende die Flyt-transaksie hom blootstel aan ’n skadevergoedingseis van sy eie unie.

Die WPRU en sy prokureurs het die afgelope week met Flyt vergader oor laasgenoemde se eis, wat sowat R500 miljoen beloop.

Nie een van die twee partye wou kommentaar lewer oor die vergadering nie, maar ingeligtes het aan Rapport gesê die twee partye kon nie ’n skikkingsooreenkoms bereik nie.

Die harde werklikheid is dat Flyt die WPRU hof toe kan sleep om skadevergoeding te eis vir kontrakbreuk nadat die WPRU probeer het om uit sy getekende kontrak vir die ontwikkeling van die ikoniese Nuweland-stadion en Brookside-eiendomme probeer kom het.

Dit was die tweede keer in ses maande wat Marais van ’n eiendomstransaksie weggeloop het, nadat hy dieselfde streek met die bankreus Investec uitgehaal het.

Die verskil tussen die transaksies is dat die WPRU sy eiendomsportefeulje as sekuriteit vir die R112 miljoen-lening met Flyt aangebied het.

Daar is verbande geregistreer op al dié eiendomme. As ’n hof dus bevind dat Flyt se kontrak – wat Marais aanvanklik as die “transaksie van die eeu” bestempel het – geldig is, kan die WP al hul eiendomme kwyt wees.

So iets sal ’n paleisrevolusie in die WP tot gevolg hê. Rapport verneem daar is reeds agter die skerms woelinge om Marais as die WP se president te vervang wanneer daar later vanjaar vir poste gestem sal word.

Volgens Rapport se bronne word Marais meer en meer geïsoleer binne die hoofraad, en word die stemme van veral Ronald Bantom en Moneeb Levy al hoe meer op vergaderings gehoor.

Albei word beskou as moontlike teenstanders van Marais in die verkiesing.

Dit blyk dat Marais toestemming vir die Flyt-transaksie van die klubs gekry het op voorwaarde dat die waarde van die eiendomsportefeulje aangepas sou word as die verbande geregistreer is.

Dit is blykbaar nooit gedoen nie.

Intussen het die WP reeds “een van die groot banke” genader om die skuld van R112 miljoen aan Flyt oor te neem. Die skuld is gemaak om lenings van Remgro en Investec terug te betaal.

Nóg Marais nóg Bantom of Levy het op Rapport se navrae gereageer. Zane de Decker, die besturende direkteur van Flyt Properties, het aan Rapport gesê hy verkies om nie tans kommentaar te lewer nie.

Meer oor:  Wpru  |  Zelt Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.