Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP/Flyt: Kommissie en kommissie

Selfs al wikkel die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) hom los uit sy ooreenkomste vir eiendomsontwikkeling met Flyt Property Investment, sal hy steeds sy verpligtinge in terme van miljoene rande se kommissie moet nakom.

Só sê Ashley Francis, die man wat die partye by mekaar uitgebring het en nou “geduldig” wag op 2% plus rente op die R112 miljoen wat Dream World Investments 401, ’n filiaal van Flyt, aan die WPRU geleen het vir die Kaapse unie om sy skuld by Remgro en Investec te kan delg.

Die Nuweland-stadion, die kroonjuweel van die WP Rugbyunie se eiendomsportefeulje, wat bestem is vir ’n ontwikkeling. Die WPRU wil blykbaar nie meer met sy ontwikkelingsvennoot, Flyt Property Investment, sake doen nie. Foto: Gallo Images

Dit blyk ook dat nóg kommissie in die toekoms na Francis toe kan vloei.

“Daar is gerugte dat die transaksie in die weegskaal is, maar ek glo alles sal uitwerk. Maar enige verwerping van die aanvanklike ooreenkoms sal tot nóg ’n transaksie lei,” het Francis in ’n WhatsApp-boodskap aan Netwerk24 gesê.

“Ek het die transaksie bemiddel om die geld te verkry waarmee die lenings aan Investec en Remgro afbetaal is. Die kommissie is steeds betaalbaar op daardie transaksie en op enige verwante transaksie wat dalk regstreeks uit die aanvanklike transaksie gaan voortspruit, soos byvoorbeeld by die Brookside-eiendom.

“Dus, ongeag wat tussen WP en Flyt in terme van die transaksie gebeur, is die 2% plus rente steeds betaalbaar.”

Toe hy gevra is wat hy bedoel met “nóg ’n transaksie” wat in die geval van verwerping sal gebeur, het Francis geantwoord dat hy seker is dat daar klousules in die ooreenkoms is wat as gevolg van ’n verwerping in werking sal tree.

Soos die terugbetaling van die lening, plus rente, plus strawwe, ensovoorts. Dít sal ’n aparte transaksie wees van wat ek bemiddel het.
Ashley Francis

Die WPRU se hoofraad het op 8 Julie ’n transaksie bekragtig waarvolgens die Kaapse unie gelyke aandeelhouers saam met Flyt in ontwikkelinge by Nuweland en Brookside sal wees. As deel daarvan is die R112 miljoen deur Dream World aan die WPRU geleen.

Die WPRU moes teen die einde van Junie skuld van R58 miljoen delg om te keer dat Remgro sy reg uitoefen om Nuweland op te veil. Remgro se voorsitter, Johann Rupert, het uitstel aangebied sodat die WPRU ’n noulettendheidsondersoek kan doel alvorens daar met Flyt ’n transaksie deurgevoer word, maar dit is van die hand gewys.

Die WPRU het ook sowat R50 miljoen aan Investec geskuld – geld wat deur die bankreus voorgeskiet is toe hy destyds die kernbepalings van ’n ooreenkoms met die WPRU onderteken het vir ’n ontwikkeling by Nuweland.

Die WPRU het egter besluit om ’n nuwe koers in te slaan en het in Junie haastig die transaksie met Flyt beklink.

Die WPRU probeer hom nou daaruit loswikkel, maar Flyt het vandeesweek by monde van Zane de Decker, sy besturende direkteur, gesê dat die Kaapse unie aanspreeklik gehou sal word vir enige skade wat deur “kontrakbreuk” veroorsaak word.

Investec behou hom ook nog sy regte voor.

Flyt het regsadvies ingewin oor ’n brief wat hy sê hy van die WPRU se prokureurs ontvang het. De Decker het aan Netwerk24 gesê dat daar volgende week op die pad vorentoe besluit sal word.

Ingevolge die transaksie tussen Flyt en die WPRU is twee ontwikkelingsmaatskappye gestig. Volgens Francis is daar reeds ’n ontwikkeling wat vir Brookside beplan word en hy sal kommissie daarvoor moet ontvang omdat dit die regstreekse gevolg is van die feit dat hy die partye aan mekaar voorgestel het.

Daardie kommissie sal van die WPRU, nie die ontwikkelingsmaatskappye nie, verhaal word, sê hy.

“WP skuld my die kommissie. Hoe die WP die geld gaan vind, is hulle saak.”

Francis het in Julie aan Rapport gesê dat hy die WPRU voorgestel het aan Dennis Venter, ’n skatryk sakeman van Somerset-Wes wat betrokke is by Dreamworld en Flyt. In daardie stadium was Francis in diens van die Universiteit van Kaapstad as uitvoerende direkteur van finansies. 

Francis het Vrydag aan Netwerk24 gesê kommissie was aan hom betaalbaar toe die geld van Dream World na die WPRU toe oorgedra is.

“Ek het tot nou geduldig gewag. Vir my is dit baie geld. Ek het gedoen wat van my gevra is en moet betaal word.”

Marais wou vroeër vandeesweek nie ’n antwoord verskaf op ’n vraag van Netwerk24 hoe Francis se kommissie geraak sal word as die Flyt-transaksie nie deurgevoer word nie. Daar is ook vir hom gevra of daar ander gelde of kommissies was wat deel van die transaksie uitgemaak het.

Ander vrae aan Marais was waarom die WPRU probeer om hom uit die transaksie met Flyt los te wikkel, waar so ’n aksie die terugbetaling van die WPRU se skuld aan Dream World sal laat, of hy bekommerd is oor die moontlike finansiële nagevolge, en of die WPRU dalk ’n gunstiger transaksie met ’n ander party wil beklink.

Marais het in ’n brief gesê dat bogenoemde kwessies moontlik op litigasie kan uitloop en hy daarom nie kommentaar kan lewer nie.

Nehawu Investment Holdings, handelsafdeling van die vakbond Nehawu, stel belang in moontlike eiendomsontwikkelinge saam met die WPRU.

Meer oor:  Investec  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Nuweland  |  Flyt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.