Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wynand: Rassie moet breier bly tot 2023

Rassie Erasmus moet ná die Wêreldbeker-toernooi aanbly as hoofafrigter van die Springbokspan en daardie taak tot ten minste 2023 vervul.

Rassie Erasmus het baie gedoen om die trots in die Springbok-trui die afgelope twee jaar te herstel.Foto: Getty Images

Dít is die mening van die eertydse Springbok-kaptein Wynand Claassen, wat die Bokke aangevoer het op die berugte betogertoer na Nieu-Seeland in 1981.

Claassen het Donderdagaand by die viering van Tuks-krieketklub se 100-jarige bestaan in Centurion gesê die Bokke moet nie die bal, wat ook al in Japan gebeur, aanslaan en daarna van Erasmus ontslae raak nie.

“Dit was tot ’n groot mate in die verlede die probleem gewees, waar afrigters ná ’n onsuksesvolle Wêreldbeker-toernooi gepos is. Daar is té maklik gehire en toe weer gefire.

“Rassie het Springbok-rugby die laaste twee jaar omgedraai en ek glo hy moet behou word. Dit is deel van die All Blacks se sukses dat hulle nie sommer net van afrigters ontslae geraak het nie.

“Kyk hoe lank het hulle met Graham Henry volhard en ook hoe lank was Steve Hansen deel van sy afrigtingspan.

“Ek sal graag wil sien dat wie ook al geïdentifiseer word as die man wat eendag by Rassie moet oorvat, dalk ná die Wêreldbeker-toernooi deel van sy afrigtingspan word sodat hy vertroud kan raak met sy werkswyse en dit ’n vloeibare proses kan wees.

Claassen glo vanjaar se Wêreldbeker in Japan kan die oopste tot dusver wees.

“Daar is seker enige van vyf of ses lande wat die beker kan verower. Ek glo ons het danksy die werk wat Rassie verrig het en hoe hy dinge doen ’n baie goeie kans om die nuwe wêreldkampioen te word.

“Rassie het die wintergreen in die kleedkamer geruik en weet waaroor rugby in die Boktrui en op die hoogste vlak gaan.

“Twee jaar terug sou niemand ons ’n kans gegee het nie, maar hy het dinge omgekeer en Bokrugby het weer sy kop opgetel.
Wynand Claassen

“Twee jaar terug sou niemand ons ’n kans gegee het nie, maar hy het dinge omgekeer en Bokrugby het weer sy kop opgetel. Rassie is ’n afrigter met visie en inisiatief. Kyk maar in sy dae daar by die Vrystaat toe hy allerlei dinge gedoen het soos met sy diskoligte op die paviljoen se dak.

“Baie het gesê dit is sommer nonsens, maar ek het daarvan gehou en het gewys hy dink vernuwend oor die spel en probeer dinge.

“Toe het hy ook sukses by Munster in Ierland behaal en om hom aan te gestel het as Bokbreier, was ’n groot stap vorentoe vir Springbok-rugby en dit was beslis ’n goeie sielkundige skuif om hom met sy nuwe denke te kry.

“Hy verstaan ook hoe die All Blacks werk en het teen hulle gespeel. Hy weet jy moet nie met vrees teen hulle speel nie en dat jy moet ingaan met die idee om hulle op te wil neuk.

“Kyk nou maar hoe kry die Bokke dit reg om hulle die laaste klompie toetse te kan ontsenu. Dit is alles aan Rassie te danke. Hy laat die spelers in hulself glo,” sê Claassen.

Tog glo hierdie voormalige Bok-agtsteman, wat in sy speeldae as bietjie van ’n rebel gesien is, dat die All Blacks steeds ’n span is wat geklop moet word by die Wêreldbeker.

“Tog is dit so dat hul etiket as onoorwinlik nie meer bestaan nie en verskeie lande gaan opdaag met die gevoel dat hulle (All Blacks) wel geklop kan word. Daar is krake in hul mondering en dit gee verskeie ander aanspraakmakers hoop,” sê hy.

Die voormalige Springbok-kaptein Wynand Claassen.Foto: Isabel Venter

Claassen voel ook dat die ringkoppe van SA rugby oor die laaste klompie jare baie oudspelers weggejaag het van die spel met die houding wat ingeneem is, maar dat dinge nou aan die verander is.

“Dit is wat All Black-rugby so sterk gemaak het. Daar is hul oudspelers geëer en het hulle ’n rol gespeel om van hulle ’n wêreldkrag te maak. Hier by ons was dit ongelukkig nie die geval nie.”

Claassen glo die fout wat Heyneke Meyer by die vorige Wêreldbeker-toernooi as afrigter gemaak het, was om té veel spelers te kies wat op hul laaste bene of oor wie se fiksheid daar twyfel was.

“Heyneke het nie juis iets kon wen (bekers) as Bok-afrigter nie, en ná hom was Allister (Coetzee) nie ’n sukses nie.

“Daarom sal ek wil sien dat daar nie eens twyfel oor die toekoms moet wees nie en dat Rassie moet aanbly as afrigter om hierdie span net nog sterker te maak. Selfs al wen ons nie nou die Wêreldbeker nie, is ons op die regte pad met hom en daar moet so aangehou word,” sê Claassen.

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.