Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wegner sluit hom weer by Cheetahs aan
Carl Wegner beur hier vorentoe vir Verblitz in die Japanse Topliga. Hy is binnekort (wanneer rugby hervat word) weer in ’n Cheetah-trui te sien.Foto: Getty Images

’n Gewese speler van die Cheetahs het onlangs in ’n gesprek gesê dat ’n oudspeler van dié span maar altyd sy weg terug Bloemfontein toe vind.

En dis presies ook die geval met die hemelbesem-slot Carl Wegner.

Wegner (29) se kontrak met die Japanse Topliga-klub Toyota Verblitz verstryk aan die einde van Mei en hy sluit hom aan die begin van Julie weer by sy geliefde Cheetahs aan.

Met die Covid-19-pandemie wat sport oor die wêreld heen lamlê, is Wegner en sy jong gesin terug in Bloemfontein en kan hy nie wag om weer by die Cheetahs in te val nie, hoewel daar nog nie sekerheid is oor wanneer dit sal wees nie.

Jake White

Wegner het hom aan die einde van die eerste Pro14-seisoen waaraan die Cheetahs deelgeneem het, by Verblitz aangesluit, wat toe nog deur die gewese Springbok-breier Jake White (nou by die Bulle) afgerig is.

Hy was daardie seisoen deel van ’n uittog van Cheetah-spelers wat dié span behoorlik geknou het in die daaropvolgende Pro14-reeks en hulle kon ook nie ’n enkele wedstryd in 2018 se Curriebeker-reeks wen nie.

“Ek het die geleentheid gekry om weer na die Cheetahs toe te kom en dit met albei hande aangegryp. Dit (Bloemfontein en Cheetahs) is ’n plek na aan my hart en een waarvan ek net goeie herinneringe het, so die besluit was nie moeilik nie,” het Wegner vroeër, kort ná sy aankoms in Bloemfontein, gesê.

Wegner was ’n integrale deel van die Cheetahs voordat hy Japan toe verhuis het en hy sal sonder twyfel weer ’n groot rol vir die span wil speel.

“Ek is baie opgewonde om ’n positiewe bydrae te kan lewer en voel gemaklik by die Cheetahs. Ek moet bieg, ek sien weer daarna uit om deel te wees van die sukses van die Cheetahs,” sê Wegner.

Dit was die Cheetahs se nuwe breier, Hawies Fourie, wat ’n belangrike rol daarin gespeel het om Wegner terug Cheetahs toe te lok. Daar is juis sprake dat nog ’n staatmaker-slot, Sintu Manjezi, op White se radar by die Bulle is. Dit is ook nog nie seker of Walt Steenkamp by die Cheetahs gaan aanbly nie.

“Ek het nog altyd net hoë agting vir Hawies as afrigter en mens gehad. Hy het ’n groot rol gespeel aan die begin van my loopbaan in 2012. So ek sien uit om weer by hom te leer en verder te groei saam met die Cheetahs.”

Ek het nog altyd net hoë agting vir Hawies as afrigter en mens gehad. Hy het ’n groot rol gespeel aan die begin van my loopbaan in 2012.
Carl Wegner

Hy sê die feit dat daar onsekerheid oor Manjezi en Steenkamp bestaan, het geen rol gespeel in sy besluit om na die Cheetahs terug te keer nie.

“My besluit was bloot daarop gegrond om weer vir die Cheetahs te speel. Ek sien uit daarna om deel te vorm van die groep slotte wat daar is en saam met hul te kan speel.”

Wegner glo die tyd in Japan saam met Verblitz het van hom ’n meer afgeronde speler gemaak as wat hy was voordat hy na die Verre-Ooste toe is.

“Ek het baie van myself as speler geleer en gegroei in sekere aspekte van my spel. Ek is dankbaar vir die geleentheid en elkeen wat gehelp het om my ’n beter speler te maak. Dit was lekker om my rugby in Japan te kon speel en sal dit vir niks verruil nie.”

Hy sê hy het daar geleer om geduld te hê en in homself te glo, maar bo dit alles, het sy tyd in Japan hom gehelp om net weer rugby te geniet en nie soveel druk op homself te plaas nie.

“Ons speel tog rugby om onsself te geniet, nie waar nie?”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Japan  |  Rugby  |  Kontrak  |  Pro14  |  Toyota Verblitz  |  Cheetahs  |  Slot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.