Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Xaba-hul kan wys Kolisi is nie onvervangbaar

Dat Siya Kolisi se verlies vir die Stormers ’n gevoelige een is (gegewe die waarde van die Springbok-kaptein op en weg van die rugbyveld), is gewis so.

Maar hoe waardevol ook al, geen rugbyspeler is onvervangbaar nie. Veral nie in Suid-Afrika nie, gegewe die ooraanbod van talentvolle jong spelers wat deur die stelsel kom.

Die jong flank Nama Xaba kan moontlik Vrydagaand in die Kaapstad-stadion wys dat die Stormers ’n waardige opvolger vir Siya Kolis het.Foto: Gallo Images

Die man wat Vrydag die kans kry om dié ou waarheid nogmaals te beklemtoon in die Stormers se nr. 6-trui, is waarskynlik Nama Xaba – dalk selfs teen Kolisi in Vrydagaand se Reënboogbeker-wedstryd in die Kaapstad-stadion.

Van die 23-jarige Xaba is daar die afgelope seisoen weens beserings maar min gesien, maar sy toetrede tot die toneel in die opwarmwedstryd teen die Leeus het gewys hoe doeltreffend hy by die afbreekpunte kan wees. Dit is moontlik sy vermoëns as ’n baljagter – iets waaraan die Stormers geruime tyd al ontbreek – wat hom bo Marcel Theunissen in die beginspan sal kry.

In albei daardie spelers se gevalle is daar ’n gebrek aan ervaring, maar in dié stadium is die belangrikste ding vir hul afrigter, John Dobson, die honger wat met jeugdige geesdrif gepaard gaan.

Dit gaan interessant wees om te sien hoe die res van die Stormers se lostrio lyk.

Die Springbok-ster Pieter-Steph du Toit gaan waarskynlik sy terugkeer maak, maar gegewe dat hy meer as ’n jaar gelede gespeel het, sal dit waarskynlik van die plaasvervangersbank af wees.

In daardie geval kan die nr. 7-flank uit die groep van Ernst van Rhyn, Johan du Toit, Theunissen, Evan Roos en Willie Engelbrecht, leenspeler van die Pumas, kom.

Engelbrecht is weens Juarno Augustus se besering in die Kaap en waarskynlik ’n sterker aanspraakmaker om as agtsteman te begin. Dobson het ook ’n baie hoë agting vir Van Rhyn en in as hy fiks is, sal hy waarskynlik die steelkantflank wees sou Pieter-Steph du Toit vir eers op die plaasvervangersbank gekies word.

Roos sal, ongeag die rol wat Dobson vir hom in gedagte het, enige geleentheid met dieselfde entoesiasme as Theunissen en Xaba omarm. Dít kon ook duidelik teen die Leeus gesien word en dit is nie verbasend nie dat die Westelike Provinsie besluit het om hom heeltyds te kontrakteer nadat hy aanvanklik vroeër vanjaar as ’n leenspeler uit Haaie-geledere in die Kaap aangemeld het.

En daarin lê die kern van die saak. Die Haaie het miskien met Amerikaanse geld daarin geslaag om een van wêreldrugby se grootste bates uit Stormers-geledere Durban toe te lok, maar die Kapenaars het sonder om groot opskrifte te haal baie goeie sake vir minder geld gedoen.

Die vraag is nou net hoe vinnig al die stukke van die legkaart in mekaar gaan pas.

Meer oor:  Stormers  |  Nama Xaba  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.