Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Xander se lot Woensdag bepaal

Daar sal Woensdag op ’n raadsvergadering van die Bulle besluit word hoe die ondersoek na Xander Janse van Rensburg, dié span se voormalige hoëprestasiebestuurder, op die spits gedryf moet word.

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het vroeër die maand opslae gemaak toe hy bevestig het Janse van Rensburg word vir beweerde bedrog en finansiële ongerymdhede ondersoek.

Xander Janse van Rensburg. Foto: Getty Images

Janse van Rensburg, wat sedert 2012 onder meer die Bulle se kontraktering van spelers behartig het, het in Februarie skielik weens gesondheidsredes bedank.

Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die BBM, het gesê die kwessie sal op die vergadering bespreek word sodat daar “op die volgende stap” besluit kan word.

Meyer sê hoewel die ondersoek einde se kant toe staan, is dit moeilik om te sê wanneer dit afgehandel sal word.

“Ons het aanvanklik net een kwessie ondersoek en dit het sedertdien wyer uitgekring.”

Daar word betroubaar verneem verskeie rolspelers, waarvan talle werknemers van die Bulle is, het die laaste ruk na vore gekom met inligting.

Een van die werknemers beweer in ’n beëdigde verklaring hy moes Janse van Rensburg R60 000 betaal om te verseker dat hy in sy pos aangestel word.

Van die ander aantygings wat teen Janse van Rensburg gemaak word, sluit in dat hy spelers “bo markwaarde” gekontrakteer het en dat daar “onwettige kommissie” tussen hom en agente was.

Daar is voorts glo ook in Februarie net minder as R300 000 se kontant in Janse van Rensburg se kantoor gevind.

In sommige kringe word gevra waarom die aantygings nou eers ondersoek word nadat Meyer in Januarie by Barend van Graan, die vorige uitvoerende hoof, oorgeneem het.

’n Rolspeler by Loftus, wat in die verlede nou saam met Janse van Rensburg gewerk het, sê dit is nie die eerste keer dat daar gerugte is van agteraf betalings nie.

Dit is goed dat die Bulle nou ’n sterk boodskap uitstuur met die ondersoek.

“Alfons was skaars hier toe besef hy daar is ’n slang in die gras. Jy kan nie anders as om te wonder of Xander voorheen beskerm is nie. Dit is goed dat die Bulle nou ’n sterk boodskap uitstuur met die ondersoek.”

Mark Greeff, ’n agent wat in die verlede Springbokke soos Johan Goosen, Faf de Klerk en Ruan Dreyer op sy boeke gehad het, sê die aantygings is skadelik vir die bedryf, wat reeds ’n stigma het.

“Dit is belangrik om nie die saak vooruit te loop nie, maar ek hoop nietemin die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) neem kennis hiervan en gebruik dit vir ’n gevallestudie vorentoe.”

Greeff sê hy doen al vir lank nie besigheid met die Bulle nie, omdat Janse van Rensburg ’n duidelike voorkeur vir sekere agente gehad het.

“Ek het nou weer hoop vir die Bulle met Alfons Meyer en Alan Zondagh (die Bulle se direkteur van rugby) wat in beheer is,” sê Greeff.

Janse van Rensburg het gesê hy het geen kommentaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.