Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Yanks sê Div moet saam storm
Die Amerikaanse konsortium MVM Holdings, wat ’n beherende belang in die WP Rugbyunie se sakevleuel wil bekom, sal Peter de Villiers in ’n raadgewende hoedanigheid wil betrek. Foto: Getty Images

Die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers sal betrokke wees by rugby in die Westelike Provinsie as dit afhang van die Amerikaanse belegger, wat ’n beherende belang in die Kaapse rugbyunie se sakevleuel wil bekom.

Marco V. Masotti, die oud-Suid-Afrikaner aan die spits van MVM Holdings, beskryf vir De Villiers as die “verlore siel van Suid-Afrikaanse rugby”.

“Een van ons idees is om rugbykenners betrokke te kry deur die skep van ’n raadgewende komitee. Peter de Villiers is ’n voormalige Bok-afrigter. Waar is hy? In niemandsland. Sekerlik is daar ’n behoefte aan sy kennis,” sê Masotti.

“Die Britse en Ierse Leeus kom aanstaande jaar Suid-Afrika toe en hy is die laaste afrigter wat ’n reeks teen hulle kon wen. Hy het iets om te bied. Die punt is dat hy kennis het en ’n rol kan speel.

“Dit is in belang van die franchise en sy sieninge sal respek afdwing by ’n deel van die Stormers se ondersteunersbasis.”

De Villiers het sedert hy in 2011 die tuig as Bok-afrigter neergelê het nog nie weer wortel geskiet in ’n hoë afrigtingspos nie. Dít ondanks die feit dat die Bokke onder hom in 2009 die reeks teen die Leeus en ook die Drienasies-reeks gewen het.

Dalk is foute gemaak en dalk is daar ook ’n mate van verbitterdheid. Dis waarskynlik ’n bietjie van albei, maar die punt is dat hy ’n rol kan hê.
Marco V. Masotti

De Villiers se soms omstrede uitsprake het waarskynlik ’n rol daarin gespeel dat hy nog nie weer ’n top-afrigtingspos gekry het nie, maar Masotti sê daar moet objektief hierna gekyk word.

“Ons gaan almal deur goeie en slegte tye. Dalk is foute gemaak en dalk is daar ook ’n mate van verbitterdheid. Dis waarskynlik ’n bietjie van albei, maar die punt is dat hy ’n rol kan hê,” sê Masotti.

Wat onderhandelinge met die WP Rugbyunie betref, sê Masotti sy konsortium is meer toegewyd as “ooit vantevore” om ’n transaksie te beklink.

“Gegrond op wat ons hoor, is daar ’n groot behoefte aan ’n belegging vir die franchise om te groei. As jy hierdie franchise in iets spesiaal en ’n wêreldwye handelsnaam wil omskep waarop almal trots kan wees, het jy ’n spesiale belegger nodig.

Marco V. Masotti, die oud-Suid-Afrikaner aan die spits van die Amerikaanse konsortium, wat in die WP Rugbyunie se sakevleuel wil belê. Foto: Verskaf

“Indien die WP ’n beter aanbod en groep mense kan kry, is ek gelukkig daarmee as hulle dit regkry. Ek sou selfs gewillig wees om saam met hulle te belê.”

Masotti sê as deel van sy visie sal hy ’n afbeelding van ’n skip buite die Kaapstad-stadion (van volgende jaar af die Stormers en WP se nuwe tuiste) wil oprig, om as simbool te dien van die diverse rugbygemeenskap wat in dieselfde rigting trek. Die slagspreuk vir die span sal ‘fear the storm’ wees.”

Soos sake tans staan, meen hy die WP bevind hom in troebel waters.

“Ek dink in WP-rugby het die Titanic die ysberg getref en dis tyd om die reddingsbote vir die klubs en spelers te laat sak,” sê hy.

Masotti se konsortium wil $6 miljoen in die WP belê vir ’n belang van 51% in die sakevleuel, waardeur hy die direksie en beroepsrugby by die unie wil beheer.

Meer oor:  Marco V. Masotti  |  Peter De Villiers  |  Kaapstad  |  Bok-Afrigter  |  Rugby  |  Wpru  |  Mvm Holdings  |  Belegger  |  Geld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.