Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Yster-lakwerk beklink beker vir SA

Waar die Springbokke opgehou het in die Wêreldbekertoernooi in Japan, het die Blitsbokke gister in Dubai Suid-Afrika se bekertog voortgesit. Hulle het die eerste sewestoernooi van die seisoen op skouspelagtige wyse gewen deur die aartsvyand Nieu-Seeland te verslaan.

Rosko Specman, Siviwe Soyizwapi
Blitsbok-brekers! Die kaptein, Siviwe Soyizwapi (links), en Rosko Specman vier hul sege in die Dubai-sewestoernooi uitbundig saam met hul spanmaats.

En nes hul vyftienman-broers was dit yster-verdediging deur die Blitse wat die stryd met 15-0 beklink het.Daarmee het die Suid-Afrikaners die Dubai-titel by die All Blacks-sewes afgevat en waardevolle momentum opgebou voordat die Kaapstad-sewes Vrydag begin.

Dis die sewende Dubai-titel vir die Blitse wat hulle nou die suksesvolste span in dié woestynstad maak.

Siviwe Soyizapi, kaptein van die Blitsbokke, was in sy noppies met sy span se vertoning, veral op die verdediging. Hulle het Nieu-Seeland vir slegs die tweede keer punteloos gehou.

Rosko Specman
Rosko Specman wys hakskene vir Nieu-Seeland se Joe Webber.

“Ons noem onsself ’n verdedigende span en die ouens het uitgegaan en gewys waarom ons dit doen,” sê hy.

“Dit was die eerste toernooi van die reeks en ek dink die roes (van die af-seisoen) is afgeskud. Ons is gereed om by die huis te speel.”

Die Blitsbokke het gister ook met ystervertonings die halfeind teen Samoa (38-7) oorheers en in die kwarteind teen Argentinië (12-5) geseëvier.

Om slegs twee drieë op die laaste dag – wanneer almal feitlik al poegaai gespeel is – af te staan, getuig van die rotsvaste verdedigingslinie.

Die Blitse was erg suinig om drieë af te staan met hul teenstanders wat slegs sewe drieë kon druk. Daarteenoor het die span op die aanval baljaar en 22 drieë ingeryg.

Daar was nie ’n span wat oor die drie dae by die Suid-Afrikaners kers kon vashou nie.

Dis ook maar nou eenmaal lekker om Rosko Specman in ’n Blitsbok-trui te sien. Dié vlugvoetige vleuel is as Speler van die Eindstryd gekroon en het die hele naweek verdedigers na lug laat gryp.

Met sy kenmerkende vaartversnelling het hy menige Blitsbok-aanval aan die gang gekry.

“Aan die begin van die week het ons gesê ons wil as ’n span speel en dis wat ons bereik het,” het Soyizwapi bygevoeg.

Die kaptein het sy span se samespel goed opgesom, want as daar pluimpies uitgedeel moet word, sal dit aan elke lid moet gaan.

Die spelers wat die wedstryde begin het, het hul ding gedoen om die grondslag te skep waarop die sege gebou kon word.

Dié wat van die plaasvervangersbank af opgestuur is, soos ’n JC Pretorius en Dylan Sage, het die wurggreep verstewig.

Dit was die geval in die eindstryd teen die Kiwi’s, wat moedeloos geraak het met die Blitsbokke se verdediging en verskeie kere besit weggeskop het.

Ook Samoa het swaar geleef in die halfeindstryd.

Terwyl die Suidsee-Eilandmanne met groot durf gespeel het, veral vir hul land wat deur ’n masels-uitbraak getref is, was hulle net nie opgewasse nie.

Só ook Argentinië in die kwarteindronde. Hulle het hul kanse gehad, maar daardie kenmerkende verdediging van Neil Powell, SA-afrigter, se span het hulle hokgeslaan.Powell het vandeesweek ’n bietjie kopkrapwerk om te doen voor die Kaapstad-sewes.

Verander hy aan sy span om spelers wat vir die Akademie-span in die Dubai-uitnodigingstoernooi uitgeblink het in te sluit of hou hy by die wenresep wat die Dubai-titel beklink het?

 

 

Meer oor:  Wêreldbekertoernooi  |  Japan  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.