Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Springbokke: Ysters voor, vrae agter

’n Erge vuurdoop wag op die Springbokke se agterste driehoek in die Rugbykampioenskap.

Dis nie net die beserings van Warrick Gelant en S’bu Nkosi wat sake vir Rassie Erasmus bemoeilik nie, maar ook die beplanning rondom Willie le Roux en Frans Steyn se oorsese klubverpligtinge.

Foto:

Selfs Duane Vermeulen se afwesigheid verhoog die druk op die vleuels en heelagter. Sy lugspel en die manier waarop hy teruggeval het om die hangskoppe te bemeester, het sy agterste driehoek goed teen die Engelse laat lyk nadat die Bokke in 2016 en 2017 lelik in dié afdeling kleigetrap het.

Die Bok-afrigter het die afgelope week gesê Le Roux is soos Faf de Klerk, Franco Mostert en Francois Louw beskikbaar vir Saterdag se toets in Durban teen Argentinië.

Le Roux kan egter ná 15 September se wegtoets teen die All Blacks in Wellington na sy Engelse klubspan Wasps terugkeer. Dít laat die Bokke met ’n tameletjie vir 29 September se toets in die Baai teen die Wallabies en 6 Oktober s’n in Pretoria teen die All Blacks.

Le Roux is vanweë sy ervaring ’n kernspeler in die agterlyn. Dit word van hom verwag om leiding aan onervare toetsspelers soos Aphiwe Dyanti (drie toetse) en Makazole Mapimpi (een toets) te gee. Lwazi Mvovo, wat die gunsteling is om saam met Dyanti die vleuelpaar in Durban te vorm, het al in 17 toetse gespeel, maar die laaste daarvan was op 18 Junie 2016.

Erasmus het op ’n nuuskonferensie gesê dis ’n gesukkel om Francois Steyn in die Bok-kamp te kry. Hy is tans betrokke by sy Franse klubspan Montpellier se voorseisoense voorbereidings. Steyn kan veral vanweë sy ervaring ’n oplossing in Le Roux se afwesigheid vir die tuistoetse teen die Wallabies en die All Blacks bied.

Die ander opsies as plaasvervangers vir Le Roux later in die Rugbykampioenskap, is die Leeus se Andries Coetzee en

Ruan Combrinck.

Erasmus het ook geskimp dat hy die jong Damian Willemse speelkans op heelagter op toetsvlak wil gee.

De Klerk behoort soos Louw vir al die toetse beskikbaar te wees. Dis nog onseker wanneer Mostert hom by Gloucester moet aansluit en of hy enduit tot ná 6 Oktober se toets oorweeg kan word.

Die Bokke is wel in die bevoorregte posisie dat hy uit slotte soos Mostert, RG Snyman, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Marvin Orie kan kies. Du Toit sal ook as seweflank oorweeg word.

Die Bokke se agttal sal na verwagting weer hul sterk punt in die Rugbykampioenskap wees.

  • Erasmus het intussen gesê dis onwaarskynlik dat hy ’n span of ’n groep kernspelers ’n week of twee vroeër na Wellington vir 15 September se toets teen die All Blacks sal stuur.

“Met al die beserings het ons nie die luukse om dit nou te doen nie. Dit kan wel verander,” het hy gesê op ’n vraag of hy ’n sogenaamde B-span vir die wegtoets teen die Wallabies sal stuur.

Die toets teen Australië vind op 8 September in Brisbane plaas.

“Ons het ses of sewe kritieke beserings wat verhoed dat ons twee spanne kies wat ewe sterk is vir die toets in Brisbane en teen die All Blacks ’n week later.

“Dit sal ideaal wees om ’n paar spelers vooruit te stuur wat vars vir die toets teen Nieu-Seeland is (en nie heen en weer tussen Suid-Afrika, Mendoza, Brisbane en Wellington moet vlieg nie), maar dis onwaarskynlik weens die beserings en ’n gebrek aan ervaring.”

Onder die beseerdes tel Trevor Nyakane, Lood de Jager, Jan Serfontein, Nkosi, Travis Ismaiel en Gelant. Coenie Oosthuizen, Vincent Koch en Marcell Coetzee het van hul beserings herstel, maar nog nie enige rugby gespeel nie.

Vermeulen is weens sy klubverpligtinge by Kubota Spears ook nie beskikbaar nie.

Die Bokke kon die Wallabies laas in 2013 in Australië klop, terwyl Suid-Afrika se laaste sege oor die All Blacks in Nieu-Seeland in 2009 was. Dít beklemtoon die moeilike taak wat later op die toer na Australasië op Erasmus-hulle wag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.