Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Zacks sê hy gaan nêrens, al dans poppe

Nuweland en die Kaap van Storms is een en dieselfde ding nadat Paul Zacks, die Westelike Provinsie se uitvoerende hoof, gister aan Rapport gesê het hy gaan nêrens nie, ondanks berigte dat Vrydag sy laaste dag as werknemer by WP Rugby was.

Zelt Marais (links) en Paul Zacks in Desember verlede jaar.

Zacks ontken dat hy in die pad gesteek of geskors is.

Hy en Zelt Marais, die WP Rugbyunie se president, is al lank haaks. In die jongste woelinge is te kenne gegee dat Zacks se doppie as uitvoerende hoof van die beroeps­arm van WP Rugby geklink is en dat hy nog voor Kersfees sonder ’n werk is.

“Ek is nie, en gaan nie geskors word nie. Ek ontken ook dat ek enigiets verkeerd gedoen het. Ek en WP Rugby sal binnekort ’n gesamentlike verklaring oor ons verhouding uitreik.”

Zacks het in ’n verklaring aan Rapport ook ontken dat Vrydag sy laaste dag in sy pos op Nuweland was.

Die Burger het berig Zacks het op 4 Desember ’n e-pos van die WPRU se direksie gekry waarin hy van meineed beskuldig word omdat hy na bewering in sy getuienis in ’n art. 417-ondersoek oor die likwidasie van die provinsie se sakevleuel gelieg het. Hy is tot Donderdag kans gegee om daarop te antwoord.

Die WP sit al sedert Januarie met die bevinding van die ondersoek, maar het byna ’n jaar gewag voordat hulle Zacks gevra het om daarop te antwoord.

Volgens ’n berig op SA Rugbymag se webwerf is die art. 417- ondersoek ingestel deur Aerios, ’n maatskappy wat in ’n hofsaak met die WP betrokke is en wat die WP se likwidasie teengestaan het.

Volgens ingeligtes is Marais onder druk om sy verkiesingsbeloftes na te kom en die finansiële posisie van die WP om te swaai.

Ek is nie, en gaan nie geskors word nie.

Die WP gaan weens sy swak finansiële posisie nie bonusse aan werknemers betaal nie en ook geen verhogings gee nie.

Daarby wil die unie glo ’n pos vir die voormalige Blitsbok-afrigter Paul Treu skep. ’n Toutrekkery oor sy salaris is volgens Rapport se inligting tans aan die gang.

Treu het vroeër as hulpafrigter van die Stormers opslae gemaak toe hy ’n grief teen die gewese Stormers-afrigter Robbie Fleck aanhangig gemaak het.

’n Onafhanklike ondersoek het sy bewerings as ongegrond bevind en Treu se kontrak is in Oktober nie deur die sakevleuel hernu nie.

Marais was onder druk om ’n plek vir Treu in die WP te vind.

’n Moratorium op nuwe aanstellings het dit onmoontlik gemaak.

Die onderhandelinge oor die beoogde pos vir Treu kom etlike weke nadat die sakevleuel en die WPRU ’n voorstel van die werknemersvakbond Sports Employees Unite verwerp het om ’n bonus van R10 000 aan werknemers te betaal.

Marais het aan Rapport gesê “daar is geen paleisrevolusie nie” en dat hy nie in die nuwe jaar aan die stuur van die sakevleuel sal wees nie.

Die WPRU het ook gisteraand ’n verklaring uitgereik waarin hulle ontken dat Zacks geskors is of geskors gaan word.

“Hy bly die WP se uitvoerende hoof, met ons kantore wat Vrydag vir die feestyd toegemaak het en Maandag 6 Januarie heropen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.