Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Zeilinga speel dalk gou vir Leeus

Die voormalige Cheetahs-losskakel Fred Zeilinga is sedert verlede week op ’n proeftydperk by die Leeus – en kan dalk voor die einde van die maand reeds in die rooi-en-wit van Ellispark op die veld gestuur word.

Die jong senter James Mollentze kry Woensdag teen die OP vir die tweede opeenvolgende week kans om sy staal vir die Leeus-afrigters te wys. Foto: Gallo Images

Ivan van Rooyen, die Leeus se hoofafrigter, het Maandag bevestig dat Zeilinga vir ’n proeftydperk van vier weke saam met die unie se senior en o.21-spelers oefen, en “desperaat (is) om vir ons te wys wat hy kan doen.

“Dis altyd goed om te kyk wat daar buite is (met betrekking tot spelers wat die Leeus se diepte kan aanvul). Fred kan vir ons ’n opsie op 10 wees; hy het al op baie plekke gespeel en bekers gewen.

“Hy het ons ’n lui gegee en gesê hy is desperaat om te kom wys wat hy kan doen, so ons het gevoel dis ’n goeie idee om hom te laat kom.

“Hopelik kan ons hom in een van die volgende twee weke ’n kans gee om te speel.”

Dit is voorop in die Leeus se gedagtes dat hulle hul kaptein en voorkeur-losskakel, Elton Jantjies, waarskynlik in ’n stadium vanjaar aan die Springbokke sal moet afstaan.

Enige kommer daaroor sal aansienlik minder wees ná die volwasse manier waarop Tiaan Swanepoel voorverlede naweek teen die Pumas in die 10-trui beheer geneem het van sake en Van Rooyen sê daar is boonop ’n rits jongelinge wat ook in dié belangrike posisie hul man kan staan.

“Ons het vir Jordan Hendrikse, wat net 20 is, maar al baie bereik het. Ons is opgewonde oor wat hy kan doen. Luke Rossouw kan vir ons 10 speel en sy groot regtervoet kan ’n verskil maak in Europa.

“James Mollentze het vir die SA o.20’s gespeel op 10 en dan is daar ook senior ouens soos Ross Cronjé. Ons glo ons het baie goeie jong losskakels hier wat boonop in ander posisies ook kan speel, so dis baie opwindend.”

Swanepoel sal Woensdag in die Leeus se voorbereidingswedstryd in die Baai teen die Oostelike Provinsie weer uitdraf op losskakel, en sowel Hendrikse as Luke Rossouw is op die plaasvervangersbank. Mollentze is gekies as binnesenter.

Mollentze, Hendrikse en Rossouw het almal verlede jaar in die nasionale o.21-eindstryd teen die Bulle gespeel en sewe van hul spanmaats in daardie wedstryd sal saamreis na Gqeberha (Port Elizabeth).

Die voormalige Junior Bok Sibusiso Sangweni vorm deel van ’n lostrio waaroor die Leeus-breintrust baie opgewonde is. Foto: Gallo Images

Dit sluit die vleuels Prince Nkabinde en Ngia Selengbe, die flanke Sibusiso Sangweni en Mark Snyman en haker Dameon Venter in.

Met geen puntelys of ’n trofee op die spel nie, bied die voorbereidingsreeks vir al die groot franchises ’n kans om te sien waartoe die volgende geslag spelers in staat is, maar die Leeus sal meer van hul senior spelers inspan in hul volgende wedstryde teen die Haaie en Stormers.

Die OP-stryd is dus die laaste geleentheid vir die juniors om hulself onmisbaar te probeer maak.

Mzwakhe Nkosi, die Leeus se o.21-breier en die een wat die span in die voorbereidingsreeks afrig, het gesê benewens die vanselfsprekende feit dat die spelers as individue moet “goed speel”, is daar belangstelling in hoedanig hulle hul rolle binne die stelsel verstaan en hulself uitdruk daarbinne.

Nkosi is veral opgewonde om te sien wat die lostrio Woensdag kan vermag.

“Sibusiso (Sangweni) is ’n Junior Bok, Mark Snyman is ’n opwindende sesflank wat ongelukkig was om nie verlede week ’n kans te kry nie en dan het ons vir Ruhan Straeuli op nommer agt, wat ons sal lengte gee en ’n belangrike rol in die lynstane kan speel. So ons het ’n agt wat kan hardloop, ’n sewe met hope vaardighede en ’n ses wat goed op die grond is. Dit is ’n reuse-geleentheid vir hulle om te wys wat hulle het,” het Nkosi gesê.

Nkosi het benadruk dat hulle die OP nie vlak kyk omdat die Bulle hulle met 80 punte afgeransel het nie.

“Ja, hulle het losgetorring teen die Bulle, maar ons stuur self ’n jong span daarheen. Ons gaan nie net mal gaan en alle versigtigheid by die venster uitgooi nie.”

Leeus-span: Divan Rossouw, Prince Nkabinde, Manuel Rass, James Mollentze, Ngia Selengbe, Tiaan Swanepoel, Dillon Smit, Ruhan Straeuli, Sibusiso Sangweni, Mark Snyman, Reinhard Nothnagel (k), Ruben Schoeman, Wiehahn Herbst, Dameon Venter, Nathan McBeth. PLAASVERVANGERS: Morné Brandon, Banele Mthenjane, Asenathi Nthlabakanye, Mandisi Mtiyane, Izan Esterhuizen, Morné van den Berg, Jordan Hendrikse, Luke Rossouw, Sibusiso Shongwe, Jarod Cairns.

Meer oor:  Leeus  |  Voorbereidingsreeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.