Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Zelt Marais eis $10 000 by Yanks vir toer

$10 000 – sowat R150 000 teen die huidige wisselkoers – vir ’n toer van die Kaapstad-stadion.

Kaapstad-stadion
Die Kaapstad-stadion was verlede maand die spilpunt in ’n nuwe relletjie tussen Zelt Marais en MVM Holdings se Marco Masotti. Foto: Gallo Images

Dít is die stywe bedrag waarop Zelt Marais, die WP Rugbyunie (WPRU) se president, aangedring het om ’n toer van die Stormers se nuwe tuiste vir hul potensiële Amerikaanse belegger te reël.

Marais het aangedring op dié bedrag nadat Marco Masotti, die hoof van die Amerikaanse maatskappy MVM Holdings, wat ’n beherende aandeel in die sake­vleuel van WP Rugby wou koop, gevra het of hy die Kaapstad-stadion kan sien terwyl hy verlede maand in die land was.

Masotti is in Suid-Afrika gebore en het verlede maand voor ’n vergadering met die WPRU by familie in KwaZulu-Natal gekuier.

Vier onberispelike bronne het aan Rapport bevestig die WPRU wou betaal word om Masotti na die Kaapstad-stadion te neem. Marais het glo in ’n e-pos gesê “95% van die bedrag sal vir rugbyontwikkeling gebruik word”.

Rapport verneem Masotti het geweier om die bedrag te betaal en Marais daaraan herinner dat die sta­dion aan die Kaapstadse metro, nie die WP nie, behoort.

Die Amerikaners was volgens ingeligtes geskok oor Marais se eis.

Ian Neilson, Kaapstad se onderburgemeester, het aan Rapport bevestig die stadsraad behartig gewoonlik die toere van die stadion wanneer lede van die publiek daarvoor vra.

Neilson wou hom nie uitlaat oor “WP-kwessies” nie.

“Ja daar is openbare toere. Die gebiede wat besoek kan word, is natuurlik beperk,” het hy gesê.

Marco Masotti
Marco Masotti

Intussen blyk dit dat die doodsklok begin lui het vir die beoogde belegging, met geen kommunikasie tussen die onderskeie partye sedert Masotti twee weke gelede terug Amerika toe is nie. Volgens ingeligtes het die WPRU se weiering om ’n beherende aandeel in die sakevleuel aan die Amerikaners te gee, in ruil vir die kontrakprys van R100 miljoen, die transaksie gesink.

Die Amerikaners is ook ontevrede omdat die WPRU nie sy geldsake aan Masotti wou openbaar nie.

“Ek wonder of hulle ooit onderhandel het met die doel om die transaksie te doen, of het hulle net tyd probeer wen,” het een ingeligte gesê.

Masotti wou nie kommentaar lewer oor die $10 000-eis nie.

Die WP se senior spelers weier steeds om oor kontrakverlengings te onderhandel tot daar sekerheid is oor die finansiële toekoms van die sakevleuel. Net agt van die spelers op WP se boeke is vasgeteken tot ná die Britse en Ierse Leeus se 2021-toer na SA.

Marais het aan Rapport gesê die WPRU bespreek nie “vertroulike” sake in die media nie.

Meer oor:  Zelt Marais  |  Marco Masotti  |  Kaapstad-Stadion  |  Toer  |  Wpru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.