Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Zelt moet jammer sê ná uitlatings
Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie.Foto: Gallo Images

Zelt Marais, president van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU), het Saterdag om verskoning gevra vir ’n onderhoud waarin hy omstrede uitlatings oor onder meer MVM Holdings, die voormalige direksielid André van der Veen en die skuif van Nuweland na die Kaapstad-stadion gemaak het.

Sy verskoning is vervat in ’n amptelike verklaring van die WPRU.

In die verklaring het Ebrahim Rasool, voorsitter van die WPRU se sakevleuel, gesê dat die unie se direksie van mening is dat Marais se uitlatings onmiddellik teruggetrek moet word en dat hy om verskoning moet vra daarvoor.

Marais het vandeesweek in ’n onderhoud met rugby365 gesê dat ’n eis van $10 000 aan Marco V. Masotti, die man aan die spits van MVM Holdings, vir ’n toer van die Kaapstad-stadion ’n “boete” was omdat die Amerikaanse konsortium die “nie-openbaarmakingsooreenkomste verbreek het” oor onderhandelinge vir ’n belegging in die WP.

MVM wou in ruil vir $6 miljoen ’n beherende belang in die WPRU se sakevleuel bekom.

Daarvan sou $2 miljoen na die unie, wat 100% van die sakevleuel besit, gaan en $4 miljoen in die sakevleuel belê word.

Volgens Marais sou die $4 miljoen eintlik ’n lening gewees het. Dié mening is egter deur MVM as twak afgemaak.

André van der VeenFoto: Verskaf

MVM het sedertdien belê by die Haaie, wat eersdaags gaan bevestig dat hulle die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, by die WP weggerokkel het.

Van der Veen het verlede jaar vir MVM as ’n moontlike belegger gevind.

Volgens Marais het Van der Veen en Kevin Kiewitz, wat in Junie verlede jaar as ’n lid van die WPRU se uitvoerende raad bedank het, “geheime vergaderings” tussen MVM en klubs gereël.

Marais het só ver gegaan as om te sê dat daar deur MVM pogings was om klubs om te koop om hulle te kry om die belegging te steun.

Van der Veen se termyn as ’n onafhanklike direkteur het in Augustus verlede jaar verstryk en is toe nie hernieu nie, ondanks die feit dat die WPRU nog met MVM aan die onderhandel was.

Rasool het egter Saterdag in die verklaring dat die WPRU nie saamstem met Marais se uitlatings nie.

“Ons glo die uitlatings was onvanpas en dien nie die belang van WPPR (die sakevleuel) en rugby in die WP op enige positiewe manier nie,” sê Rasool.

Ons glo die uitlatings was onvanpas en dien nie die belang van WPPR (die sakevleuel) en rugby in die WP op enige positiewe manier nie.
Ebrahim Rasool

“Mnr. Marais het sy berou uitgespreek en saamgestem dat hy nie enige van sy stellings moes gemaak het nie.

“Hy onttrek dit daarom ten volle, onvoorwaardelik, en vra om verskoning vir enige aanstoot wat dalk veroorsaak is by die mense wat genoem is.

“Die WPPR se direksie glo nie dat daar enige korrupsie of onbehoorlike optrede was deur enigiemand wat op die naam genoem is nie ... veral met betrekking tot finansiële voorstelle aan klubs van die WP.”

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WP Rugbyunie se sakevleuel.Foto: Gallo Images

Rasool het in die verklaring ook benadruk dat Van der Veen ’n mandaat gehad het en versoek is om ’n belegger te probeer vind.

Marais het ook in sy onderhoud gesê dat hy sy bedenkinge oor ’n skuif na die Kaapstad-stadion toe het, maar dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie aan die WP gesê het dat daar nie Springbok-toetse aan hulle toegeken sou word indien daar nie na ’n “groter stadion” toe geskuif word nie. Gevolglik is die skuif volgens hom deur “druk van buite” teweeggebring.

Daarvoor is hy ook voor stok gekry.

“Terwyl ons skuif van Nuweland na Kaapstad-stadion ’n bietjie hartseer is ... is dit ook opwindend danksy die geleenthede op groei en uitbreiding. Dit is egter nie ’n skuif wat ons teen ons wil en onder druk maak nie,” sê Rasool.

Rasool se nuusverklaring kom nadat Van der Veen hom oor Marais se uitsprake gekontak het.

Van der Veen sê hy beplan nie verdere stappe teen Marais nie, maar het hom in ’n sterk bewoorde verklaring aan Netwerk24 gekap.

Ek hoop WP Rugby kan stabiele leierskap vind sodat die spelers, afrigters en ondersteuners kan sien hoe die WP weer sy potensiaal bereik.
André van der Veen

“Ek hoop WP Rugby kan stabiele leierskap vind sodat die spelers, afrigters en ondersteuners kan sien hoe die WP weer sy potensiaal bereik,” het Van der Veen gesê.

“Wat ook al van hier af gebeur, het mnr. Marais se verduideliking dat hy vir mnr. Masotti en MVM wou ‘beboet’ minstens vir komiese verligting in moeilike tye gesorg en sal dit ongetwyfeld vir baie jare aanhou om die geval te wees.”

Marais se omstrede onderhoud kan hier gesien word:


Meer oor:  Marco V. Masotti  |  Zelt Marais  |  Ebrahim Rasool  |  Kaapstad  |  President  |  Bestuur  |  Omstrede  |  Rugby  |  Mvm Holdings  |  Verskoning  |  Wpru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.