Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Zondagh waai by Boland ná rasse-wrywing
– Alan Zondagh (foto)

Inmenging deur bestuurslede en klaarblyklike wrywing oor die rassamestelling van die Boland-Kavaliers-span, word as die twee vernaamste redes voorgehou waarom Alan Zondagh onverwags as direkteur van rugby by die Boland Rugbyunie (BRU) bedank het.

Zondagh, ’n voormalige afrigter van die Oostelike en Westelike Provinsie, wou egter nie uitwei oor die bewerings nie.

“Om my werk te doen was vir my moeilik,” het Zondagh oor sy skielike bedanking die afgelope Dinsdag gesê. “Daar is goeie mense (by Boland), maar ek kan nie elke dag voorgesê word wat om te doen nie.”

Oor die gerugte dat die span se samestelling in ’n stadium te “wit” was, het Zondagh erken dat dit die geval kon gewees het.

“Die span was seker te wit op ’n tyd, maar ons het net soveel spelers waaruit ons kan kies. Boonop was die span steeds meer getransformeer as meeste ander Curriebekerspanne.”

Zondagh sê die Boland Akademie, waar sy hooftaak was om spelers te werf en met afrigting te help, bestaan uit amper 80% “gekleurde” spelers. “Ek het baie van my eie geld spandeer om daardie kinders deur te trek.”

Hy sê daar is ’n “fyn balans” tussen prestasies op die veld en prestasies van die veld af.

Zondagh wou nie verder oor die kwessie uitwei nie omdat hy nie lus is vir ’n “bekgeveg” in die media nie.

Oor die gebruik van sy Rugbyprestasiesentrum (RPC) in Riebeek-Wes, wat hy vir die unie beskikbaar gestel het as hoëprestasiesentrum (HPC) vir al die Bolandse senior en junior rugbyspanne, sê Zondagh hy gaan nie die unie “wegjaag” nie.

Die ooreenkoms vir die gebruik van die fasiliteite geld nog vir die volgende twee seisoene.

Zondagh, wat voorheen ook die Engelse klub Saracens afgerig het, is in Januarie vanjaar by Boland aangestel. Die unie het vanjaar, onder die leiding van afrigter Brent Janse van Rensburg, vir die eerste keer in sewe jaar weer vir die Premierliga van die Curriebeker gekwalifiseer.

Die BRU het in ’n verklaring aan Rapport gesê hulle gaan nie kommentaar oor Zondagh se bedanking lewer nie, maar het aangedui dat hulle “in dié stadium” steeds die RPC sal benut.

Boland het intussen aan Rapport bevestig die skrumskakel Marnus Hugo en die veelsydige voorspeler Hanno Kitshoff albei hul stewels gaan ophang. Albei het die unie in meer as 60 wedstryde verteenwoordig.

Janse van Rensburg het Zondagh se bedanking as ’n terugslag bestempel, maar sê dat die Boland nie nou tyd kan verkwis nie, skryf Leighton Koopman.

“Alan het my en die ander afrigters bemagtig om ons werk te doen; daarvoor is ek baie dankbaar. Ek is toegelaat om af te rig en stelsels in plek te stel wat ek gevoel het reg vir Boland Rugby is. Dit sal voortgaan, en so ook ons kontraktering van spelers.

“Alan het my in my besluite ondersteun en ek is hom dank verskuldig vir sy steun en vertroue.”

Meer oor:  Alan Zondagh  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.