Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Skandes werp skadu oor 100ste Tour

PARYS. – Die stof wil maar net nie gaan lê rondom verbode middels in fietsry – spesifiek in die Tour de France – nie.

Die vyfmalige wenner van dié gesogte fietsren wat môre in Porto-Vecchio begin, Bernarnd Hinault, sê die toekoms van die Tour is in die gedrang weens die rits bekentenisse en beskuldigings deur jaers rakende die gebruik van verbode middels.

Die Fransman se landgenoot Laurent Jalabert is vandeesweek beskuldig dat hy eritropoiëtien (EPO) in die skandaal geteisterde Tour de France in 1998 gebruik het.

Die 100ste Tour is die eerste sedert verlede jaar se Lance Armstrong-skandaal en organiseerders wil aanbeweeg.

Die kwessie van middelmisbruik is egter nog lank nie afgehandel nie, met bewerings rondom Jalabert en verlede week se onthulling deur 1997 se wenner, Jan Ulrich, dat hy ook gedurende sy loopbaan verbode middels gebruik het.

“Dit was 15 jaar gelede. Ons moet ophou om spoke op te jaag. Dit is asof hulle die Tour die doodskoot wil gee,” het Hinault, wat in 1978, 1979, 1981, 1982 en 1985 fietsry se grootste fietsren gewen het, gesê.

Volgens die gesiene Franse sportkoerant L’Equipe het Jalabert se beweerde misbruik aan die lig gekom in dokumente oor die toets vir verbode middels wat in 2004 opgediep is.

Intussen het die direkteur van die Tour de France, Christian Prudhomme, opnuut gevra vir ’n “werklik onafhanklike kommissie” wat middel-misbruik in alle sportkodes ondersoek. – Sapa-AFP

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.