Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
4 Kiwi-skole gaan room van SA toets

Volgende jaar se Wêreldskolerugbyfees sal ’n sterk Kiwi-geurtjie hê met vier skole van Nieu-Seeland wat hul slag teen van Suid-Afrika se voorste spanne sal kom wys.

Paarl Gimnasium sal in 2019 weer poog om die Wêreldskolerugbyfees onoorwonne af te sluit. Foto: Argief

Nege van die 10 spanne wat die tog van oorsee na Paul Roos Gimnasium se Markotter-veld sal aanpak, is vandeesweek bekend gemaak.

Christchurch Boys’ High en Napier Boys’ High sal albei vir die tweede jaar terugkeer en hoop op beter vertonings, terwyl die toevoegings van John McGlashan College en Southland Boys’ High Nieu-Seeland ’n groter verteenwoordiging in die skoleskouspel sal gee.

Die twee Amerikaanse spanne, Rhinos Rugby-akademie en St. Ignatius High School, sal vervang word deur ’n Amerikaanse nasionale skolespan, terwyl ’n Namibiese 15-tal en Argentinië se o.18-span ook moontlik nie weer sal deelneem nie.

Die ander spanne wat wel sal terugkeer, is ’n uitnodigingspan van Afrika en die Suidsee-Eilande, Hartpury College van Engeland, die Italian All Stars en die New South Wales Cavaliers van Australië.

Dié spanne sal teen Paul Roos Gimnasium, die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), Boland Landbou, Glenwood High School, Grey Kollege, Hilton College, Hoërskool Monument, SACS, Paarl Gimnasium en ’n Suid-Afrikaanse Uitnodigingspan te staan kom.

Christchurch Boys’ High, een van Nieu-Seeland se voorste rugbyskole, spog met oud-leerlinge soos die All Black-legende Dan Carter, asook huidige spelers soos Brodie Retallick, Anton Lienert-Brown, die Franks-broers Owen en Ben, asook die nasionale span se breier, Steve Hansen, en die voormalige breier sir Graham Henry.

Volgens dié skool se eerstespan-afrigter, Reece Archibald, is die toernooi ’n groot hoogtepunt op hul kalender.

“Dis ’n fanstastiese toernooi en daar is vanjaar baie mooi na ons omgesien,” het hy gesê.

“Dit (Suid-Afrika) is die tuiste van hoërskoolrugby in die wêreld en dis ’n groot voorreg om daar te kan deelneem.”

Die Afrikaanse Hoër Seunskool sal hoop op ’n beter vertoning op 2019 se Wêreld-skolerugbyfees. Hier probeer Eric Sherman om ’n speler van die Afrika-Suidsee-uitnodigingspan te ontwyk. Foto: Gallo Images

Christchurch Boys’ High het egter harde bene gekou in vanjaar se toernooi in die Paarl, waar hulle met 28-66 teen Grey Kollege vasgeval en ook toe met 25-7 deur die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) oorrompel is.

Napier Boys’ High, die alma mater van voormalige All Blacks soos Zac Guildford, Greg Somerville en Richard Turner, sal ook hoop op beter vertonings nadat hulle vanjaar teen Boland Landbou (26-59) en Monument (37-42) verloor het.

John McGlashan College is die alma mater van die voormalige All Black-haker Andrew Hore.

Southland Boys’ High het ook al talle All Blacks gehad wat in hul gange geloop het, soos Paul Henderson en Lance Johnson.

In Augustus het Southland John McGlashan College in hul plaaslike liga met 40-5 vermorsel.

Die afwesigheid van die Argentynse span sal wel ’n groot leemte laat nadat hy sonder twyfel in 2018 met ’n sege oor Boishaai (19-10) en ’n naelskraapse nederlaag teen Gimmies (36-38) die beste besoeker was.

Daar is egter steeds ’n moontlikheid dat hy die 10de span sal wees.

Suid-Afrikaanse spanne het vanjaar in 18 van die 20 wedstryde teen oorsese teenstanders die pyp gerook.

Volgende jaar se toernooi sal van 25 tot 30 Maart gehou word.

Meer oor:  Skolerugby  |  Skolesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.