Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Broer verras Nicole Walraven
Wys trots by eindstryd met banier oor prestasies
Felix Walraven (links) en sy oudste seun, Mark, met die banier wat Mark vir sy sussie, Nicole, gemaak het. Foto: Ruan Bruwer

Min mense kon Maandagaand by die eindstryd van die Varsity-hokkiereeks vir vroue die reuse-banier in die skare misgekyk het.

Anders as die meeste baniere by sportgeleenthede was hierdie een nie humoristies nie, maar eerder van ’n broer wat sy trots vir sy sussie op die veld wou wys.

Mark Walraven, oudste broer van die Kovsie-verdediger en oudleerling van Eunice, Nicole Walraven, het haar hokkieprestasies daarop uiteengesit.

Hy beskou homself as haar grootste ondersteuner.

Dit het hom sowat agt uur geneem om die banier te maak en dit was ’n verrassing vir haar, so ook sy besoek aan Bloemfontein wat met die eindstryd saamgeval het.

Hy is besig met sy tesis in internasionale sakestudies in Amsterdam en is tans vir ’n rukkie in Johannesburg.

“Die banier was my idee. Watter beter manier om vir haar te sê sy is my held! Ek wou ook vir almal wys wat sy reeds op haar jong ouderdom (21) bereik het,” het hy gesê.

Tinks  of  Tinkerbell,   soos dié Kovsiestudent in menslike bewegingskunde bekend is, het vanjaar haar buiging vir die Proteas as verdediger gemaak.

Sy speel al sedert haar gr. 11-jaar vir die Vrystaatse o.21-span en was op die onlangse provinsiale o.21-hokkietoernooi (as kaptein) die gesamentlike speler van die toernooi.

Toe Nicole in 2013 vir die Suid-Afrikaanse o.21-span aan die Junior Wêreldbeker-toernooi in Duitsland deelgeneem het (sy was die span se voorste doelskieter), was niemand anders nie as Mark een van die span se breiers.

Volgens haar was dit baie spesiaal om die banier by die opwarming te sien en het sy wel geloer of die inligting alles korrek is.

“Dit het my stoutste verwagtinge oortref en sonder twyfel as ekstra aanmoediging gedien,” het sy gesê.

Benewens Mark is Nicole se jonger broer, Brett, en haar pa, Felix, en ma, Lynne, ’n onderwyseres aan Eunice, almal groot hokkieondersteuners.

Trouens, hulle mis nie maklik een van haar wedstryde nie en was selfs saam Duitsland toe.

Brett is die kaptein van die Kovsies se manspan en Lynne dien hokkie op verskeie gebiede, onder meer in die Suid-Afrikaanse laerskolevereniging. Sy en Felix neem ook altyd foto’s as hul spruite speel.

 Brett gaan met die kaptein van Kovsies se vrouespan, Liné Malan, uit.

Die onderkaptein, Minjon van Tonder, gaan weer met AB Ras uit wat verlede jaar nog vir die Kovsies se manspan gespeel het. AB se jonger sussie, Jacqui, is weer ’n spanmaat van Nicole, Liné en Minjon.

Jacqui en Minjon studeer albei medies, soos AB gedoen het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.