Skole
Rhinos vir eerste keer makroskole se kampioen
Nelspruit klop Garsies in eindstryd

Die Hoërskool Nelspruit het Saterdag vir die eerste keer die Beeldtrofee as kampioenspan van makroskole omhoog gehou deur Garsfontein naelskraap met 20-19 te klop.
Wessel Muller van die Hoërskool Nelspruit se Rhinos druk sy drie in die eindstryd van die Beeldtrofee vir makroskole teen die Hoërskool Garsfontein. Foto: Christiaan Kotze

Die Hoërskool Nelspruit het Saterdag vir die eerste keer die Beeldtrofee as kampioenspan van makroskole omhoog gehou deur Garsfontein naelskraap met 20-19 te klop.

Nelspruit se veggees, vasberadenheid en vertroue in hul vermoëns nadat hulle Monnas verlede week in die halfeindstryd geklop het, was volgens Chris Mans, afrigter van die span, die deurslaggewende faktor in hierdie klipharde eindstryd.

Garsfontein het sommer vroeg toegeslaan toe Herman Britz, senter, ’n paar verdedigers geklop het om die Garsies se rekening te open.

Hoewel Garsfontein met sy groter pak voorspelers Nelspruit aanvanklik geknyptang het, het Nelspruit se veggees sy span stelselmatig terug in die prentjie gekry.

Die Nellies het goed daarin geslaag om Garsfontein se lynstane te ontwrig en het al hoe meer balbesit begin kry om met ’n groter avontuurlustigheid te begin hardloop en het na die gevaarliker span in hierdie helfte gelyk.

Nadat Ruan Ackermann, Garsies se kaptein, ná ’n gevaarlike boorvat met ’n geel kaart afgestuur is, het ’n paar krake in Garsfontein se andersins goeie verdediging ontstaan en Wessel Muller het drie verdedigers geklop om onder die pale te gaan druk. Nelspruit het vir die eerste keer met 10-7 voor­geloop.

Ná rustyd het Nelspruit weer eerste toegeslaan toe een van sy uitblinkers, die vleuel Lukas de Kock, uit die gebroke spel begin hardloop en langs die pale oorgeduik het.

Garsfontein het hom nie van stryk laat bring nie en sy swaarder pak voorspelers het van ’n strafskop af met die bal begin hardloop en Ackermann het vir sy sondes vergoed deur vir die Garsies se tweede drie oor te duik en die telling tot 17-14 te laat krimp.

Met sowat vyf minute oor het Muller sy span se voorsprong gerek toe hy ’n naelskraapse strafskop oor die pale gestuur het.

Morné Pretorius, skrumskakel van Nelspruit, moes ná geniepsige spel vir die laaste vyf minute in die koelkas deurbring. Garsfontein het toe die skroewe begin aandraai en verwoed begin aanval.

Met nog enkele sekondes oor het Conree Poole, Garsies se regtervleuel, die ontwrigte verdediging van Nelspruit agterlangs uitgebuit en in die hoek oorgeduik om sy span ’n wenkans te gee.

Die doelskop was egter mis en Nelspruit het vir die eerste keer die alleenhouer van die gesogte trofee geword.

Riaan le Roux, slot van Neslpruit, is as speler van die wedstryd aangewys.

Gerhard Holtzhausen, mede-afrigter van Nelspruit, kon sy vreugde met sy pa, Louis, deel wat in 1973 die Administrateursbeker as afrigter van Delmas gewen het. 

Volg Netwerk24