Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies en Parkies onoorwonne op atletiekbaan

Die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Hoërskool Menlopark het die afgelope naweek die kroon gespan op ’n onoorwonne atletiekseisoen by die Noordwes-Universiteit se Top30-byeenkoms wat in Potchefstroom gehou is.

Affies se seuns het vir die tweede opeenvolgende jaar alle mededingers uit die pad gevee in die seunsafdelings van hul onderskeie byeenkomste, terwyl die Parkies, wat seuns- en meisiespanne inskryf, weer oor hul teenstanders in die algehele afdeling gestoomroller het.

Affies se lemnaeler Ntando Mahlangu het die voltal op die Absa-puntetabel behaal met sy weghol-oorwinning in die 800 m vir o.17-seuns. Sy tyd was ’n skitterende 1:47.45. Foto: Marius Nortjé

Affies se o.17-4x100 m-aflosspan het sy segetog en rekordvertonings in Potchefstroom voortgesit deur die wenstreep in 41.63 sekondes oor te steek om goud te wen. Monument was tweede in 42.65.

Affies se lemnaeler Ntando Mahlangu het die voltal van 1 200 op die Absa-puntetabel behaal met sy wegholoorwinning in die 800 vir o.17’s, met ’n tyd van 1:47.45.

Die Parkies se Kirsti Bell het die 2 000-hindernis vir o.17’s gewen in ses minute, 59.31 sekondes. Dit was ’n byeenkomsrekord en ook meer as ’n minuut voor die NWU se Charné Erasmus, wat naasbeste was in 8:16.04.

Die Hoërskool Overvaal se Jason Bower was uitstekend in die o.16’s se 1 500 m, waar hy die rekord oortref het in 3:56.91 vir sy eerste plek, terwyl die Hoërskool Montana se indrukwekkende langasem Carmie Prinsloo in dieselfde nommer vir o.17’s geseëvier het in 4:32.64 – ook ’n rekord.

Prinsloo het boonop goud in die 3 000 verower in 9:42.28, haar tweede rekord van die dag.

Die Hoërskool Klerksdorp se Kayla van der Bergh het haar goeie peil vanjaar voortgesit in die o.17’s se 100-hekkies, waar sy in 13.31 gewen het vir haar byeenkomsrekord.

Rozario Williams het die Hoërskool Monument van trots laat swel in die 110-hekkies vir o.19’s, met ’n haastige 14.16.

Net so het Monnas se Tebogo Maseema die o.19-driesprong gewen met ’n afstand van 14.43 m.

Kyla la Grange van Rustenburg het die o.15’s se 200-rekord verbeter toe sy die wenstreep in 24.00 sekondes oorgesteek het.

Sy het ver voor haar naaste teenstander, Cassidy Lacy van Waterkloof, klaargemaak. Lacy het silwer gewen in 25.14.

Rekords het ook in die 400 en 300-hekkies gespat.

Precious Molepo van Prestige College het die o.14-rekord agter haar naam geskryf in ’n blitsige tyd van 55.33. Sy het byna twee sekondes voor Helpmekaar se Hannah van Niekerk geëindig, wat tweede was in 57.21.

Van Niekerk het wel in die 300-hekkies oorheers en haar wentyd van 43.72 was ’n rekord.

Daar was vreugde vir die Helpies toe een van hul o.14-seuns, Vian Singleton, die 400-rekord oortref het in 50.97.

King Edward VII School se spoedvraat Lythe Pillay was ook een van die grootste uitblinkers met sy goue medalje en rekord vir o.16’s in 47.16.

Die spiesgooi-fabriek, die Hoërskool Garsfontein, se Armandt van der Linden het met ’n afstand van 69.75 m die o.16’s se titel met groot gemak gewen.

* Die Parkies het vanjaar die algehele titels by die Hoërskool Noordheuwel se Top15-atletiekbyeenkoms, die Universiteit van Pretoria se Top10-byeenkoms, Madibaz se Top10-byeenkoms, Helpmekaar Kollege se Goue Liga-atletiekbyeenkoms, die A-bond se atletiek-interhoër, die Twizza Superskole-reeks se Noord-afdeling, die Top 20-byeenkoms in Naboomspruit en boonop die afgelope naweek in Potchefstroom verower.

Hul meisies het boonop die sterk teenstand van die Afrikaanse Hoër Meisieskool afgeweer by die Superskole-reeks én by die NWU Top30 om die meisie-afdeling ook te wen.

Affies se seuns het weer met seges weggestap by onder meer die Hoërskool Florida se jaarlikse Prestige-atletiekbyeenkoms, Tuks se Top10-byeenkoms, die A-bond se interhoër, die Noordvaal Goue interhoër, die Engelse interhoër, Twizza se Superskole-reeks se Noord-afdeling, die Top 20-byeenkoms in Naboomspruit en ook die Top30-byeenkoms in Potchefstroom.

Meer oor:  Skoleatletiek  |  Menlopark  |  Top30-Atletiekbyeenkoms  |  Affies  |  Parkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.