Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies, Helpies al ligpunte vir Noorde

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) en Helpmekaar Kollege was die enigste ligpunte vir Gauteng by die Noord-Suid-toernooi wat verlede week by die Hoërskool Garsfontein gehou is.

Affies was die enigste span wat onder die vaandel van die Noorde deelgeneem het wat albei hul wedstryde kon wen nadat hulle vir die Hoërskool Stellenberg van Belville (28-21) en die Hoërskool Outeniqua van George (27-20) geklop het.

Ulrich Wiese van Menlopark op die aanval met Grey-kollege se verdedigers wat verbete probeer keer. Foto: Marius Nortjé

Die Helpies het veral beïndruk met hul gelykopuitslag met 20-20 teen die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) en hul oorrompeling met 64-17 van Boland Landbou.

Die Noorde kon net in ses van die 14 wedstryde die pyp rook terwyl die spanne van die Suide weer lyk asof hulle moeilik vanjaar gestuit sal word.

Grey-kollege van Bloemfontein, wat onder die vaandel van die Suide deelgeneem het, het sy onoorwonne vertoningslys voortgesit nadat hy eers met die Hoërskool Menlopark afgereken het met 59-28 en daarna ook 50 punte teen die gasheer opgejaag het met ’n 53-30 wegholsege.

Laasgenoemde was die 21ste agtereenvolgende wedstryd waarin die Vrystaters nie die knie gebuig het nie, met ’n gelykopuitslag in 2018 teen Glenwood High School wat ook hieronder tel.

Grey het in Mei 2017 laas die knie gebuig toe hulle deur Selborne College met 20-19 verras is. En as die wedstryde wat hulle vanjaar al agter die rug het enige aanduiding is, sal hulle moeilik vanjaar aan die verkeerde kant van die telbord eindig.

Die Garsies moes hard werk om vir Outeniqua met 28-24 te troef in hul eerste wedstryd, maar is steeds soek na hul eerste sege oor Grey-kollege nadat die span van die Rosestad hul partytjie in die toernooi se hoofwedstryd bederf het.

Monument het waarskynlik die taaiste loting van al die spanne gehad toe hy vir Paarl Gimnasium en Boishaai getrek het.

Die span van Krugersdorp is deur Gimmies met 43-29 kafgedraf en moes toekyk hoe Boishaai hulle harte breek met ’n doodsnikdrie om met 35-31 te wen.

Ná hul nederlaag teen Grey het Paarl Gimnasium ook min genade betoon aan Menlopark en hulle met 38-23 kaf gedraf.

Vuurwerke word beloof wanneer Grey en Gimmies op 4 Mei by die Wildeklawer-toernooi in Kimberley swaarde kruis.

Die Hoërskool Waterkloof het met 31-36 hul teen Boland Landbou vasgeloop, maar toe die Blou Tornado aan die draai gekry teen Durbanville toe hulle met 63-15 gewen het.

Die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg het eers vir Durbanville met 30-18 geklop, voordat hulle hul voet van die versneller afgehaal het teen Stellenberg en ’n 20-7 voorsprong prysgegee het om met 32-42 te verloor.

* Affies, Boland Landbou, Grey-kollege, Monument en Paarl Gimnasium se aandag skuif nou na die Wêreld-skolerugbyfees wat die week in Stellenbosch gehou word.

Meer oor:  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.