Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies wen weer by ‘Engelse’ Interhoër

Daar blyk net geen keer te wees aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se oorheersing op die atletiekbaan nie nadat hy Saterdag wéér as die wenners gekroon is by die Engelse Interhoër-atletiekbyeenkoms.

Dieter Schubert van Affies het die diskus (48,56 m) en die gewigstoot (16,40 m) vir o.14’s gewen met nuwe rekordafstande by die Pretoria Atletiekinterhoër vir Engelse skole. Foto: William Brown

Tien rekords het nuwe eienaars gekry met Affies, wat ook die byeenkoms by die skool aangebied het, wat afgesluit het met 432 punte, terwyl King Edward VII School (KES) tweede was met 414 punte en Jeppe High School for Boys derde met 297.

Pretoria Boys High (214), St. David’s Marist Inanda (181), Parktown Boys High (168) en St. John’s College (168) het gevolg.

Affies se rekordbrekende o.17 4x100 m-aflosspan was weer een van die hoogtepunte van die byeenkoms.

Hulle het gewen in ’n nieamptelike tyd van 42.32 sekondes om die vorige rekord te verbeter. Dit was boonop hul eerste wedloop saam sedert die Noordvaal se Goue Interhoër-byeenkoms in Februarie waar hulle gewen het in ’n amptelike tyd van 41.47.

Net so het Gerdus du Plessis sy segetog in die 400 m-hekkies vir o.19’s voortgesit in 54.13 sek, ook ’n rekord.

David Seete van KES het geen tekort aan spoed nie en met goud weggestap in die o.19’s se 400 m in 47.30 sek.

Dit was meer as drie sekondes voor sy naaste teenstander.

Jack Juds van St. David’s het uitgetroon in die o.17’s se 400 m waar hy gewen het in 49.26 sek, wat ook sy naam in die rekordboeke opgeteken het.

Parktown Boys High se langasem Maxime Chaumeton was in sy eie klas in die o.19’s se 3 000 m. Hy het die wenstreep eerste oorgesteek in ’n rekordtyd van agt minute, 35.20 sek.

Roberto Agrizzi van Jeppe en Pretoria Boys se Jorim Bangue het albei die rekord in die o.17’s se 110 m-hekkies verbeter, met Agrizzi wat naelskraaps gewen het in 14.14, met Bangue tweede in 14.15.

KES se haastige o.16 4x100 m-aflosspan het hul teenstanders deeglik laat les opsê en goud gewen in ’n nieamptelike tyd van 42.80 sek. Affies was ’n ent agter hulle en het silwer gevat in 43.55, met Jeppe wat brons gewen het in 43.81.

In die o.16’s se gewigstoot het Affies se Carlo Brink met die louere weggestap met sy afstand en nuwe rekord van 17,57 m. Sy naaste teenstander was KES se Cole Knight wat tweede was met 12,80 m.

In die o.14’s se spiesgooi het Juandré Pienaar van Affies die voltal op die Absa-puntetabel behaal toe hy die maatband laat strek het tot 63,22 m. Hy het hiermee ook ’n nuwe rekord opgestel, terwyl Dieter Schubert in die diskus (48,56 m) en die gewigstoot (16,40 m) vir o.14’s geseëvier het.

Affies is die enigste Afrikaanse skool wat jaarliks ’n uitnodiging na dié prestige-atletiekbyeenkoms vir seunskole kry, maar het in 2017, 2018 en nou in 2019 sy Engelse teenstanders op hul neuse laat kyk deur die titel te verower.

Meer oor:  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.