Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies maak pasta van Italianers

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria het Woensdag met 36-12 klaargespeel met die Italian All-Stars op die tweede dag van die Wêreld-skolerugbyfees by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.

MJ Jansen van Rensburg van die Afrikaanse Hoër Seunskool op die aanval teen die Italian All-Stars by die Wêreld-skolerugbyfees. Foto: Frans Lombard

Affies, wat meeste van hul gereëlde eerstespanspelers ’n blaaskans gegun het, moes ’n oomblik neem om hul ritme op die aanval te vind met hul hantering wat aanvanklik gelol het.

Daar het egter niks geskort met die skrums en lynstane nie en in die eerste helfte alleen het hulle drie van die Italianers se balle in die lynstaan gesteel.

Die Italian All-Stars het boonop ook hard bene in die skrums gekou en moes deurlopend skarrel om balbesit te behou.

Affies het die eerste kwart van die wedstryd die grondslag gelê met hul voorspelers wat sake beheer het. Hul eerste twee drieë het juis gekom na dryfmaalbewegings.

Eers het die haker Keegan Potgieter en daarna die flank Adolph Visser, wat die eerste van sy driekuns afgerond het, oorgestoomroller.

Daarna het die Wit Bulle van Pretoria die agterlyn betrokke gekry en dis toe wat Affies begin baljaar het.

Die span van net oorkant Loftus Versfeld was met die rustyd reeds met 31-0 voor, danksy drieë deur die regtervleuel Kyle Liebenberg en die heelagter Ruben Barkhuizen, met Visser wat sy tweede ingeryg het.

Kort na die draaislag het Visser sy driekuns voltooi, maar Affies het toe hul voet van die versneller gelig en Italianers het met twee drieë geantwoord.

Eers het die loskopstut Valerio Bizzotto gedruk ná die buitelanders Affies ’n bietjie van hul eie medisyne gegee het en oor die lyn gedryf het.

Daarna het die losskakel Giovanni Montemauri self ’n goeie poging afgerond om heelwat aansien vir sy span te herwin.

Affies sal hulself nou staal vir hul tweede stryd van die toernooi met Christchurch Boys High, wat Saterdag lê en wag in wat beloof om ook ’n goeie kragmeting te wees.

Puntemakers:

Affies 36 (31): Drieë: Keegan Potgieter, Adolph Visser (3), Kyle Liebenberg, Ruben Barkhuizen. Doelskoppe: Nico Muller (3).

Italian All-Stars 12 (0): Drieë: Valerio Bizzotto, Giovanni Montemauri. Doelskoppe: Montemauri.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.