Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies maak skoonskip teen Helpies

Dit het soms broekskeur gegaan, maar die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het Saterdag sy eeufees-rugbyseisoen op ’n wennoot afgeskop deur die Helpmekaar Kollege van Johannesburg met 27-17 te troef.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se losskakel Terblanche van Lill hardloop oor ’n verdediger van Helpmekaar Kollege terwyl Kyle Liebenberg ondersteuning bied. Foto: William Brown

Affies het meeste van die balbesit en gebiedsvoordeel geniet, maar die telbord wou dit net nie wys nie.

Drieë deur Affies se agtsteman Willie Potgieter en linkervleuel Kyle Liebenberg het teen rustyd die Pretorianers ’n naelskraapse voorsprong met 10-7 gegee, nadat die Helpies-slot Zack van Zyl ook agter die doellyn gaan draai het.

Die Affie-vaskopstut Jaco du Toit het die tuisspan se voorsprong tot 17-7 laat rek met sy drie.

Daarna het ’n rits foute deur Affies en Helpmekaar se vermoë om dit uit te buit, die gety laat draai.

Die Helpies se Melbirt van der Spuy het gaan druk nadat Affies vanaf hul eie doellyn met die bal probeer hardloop en dit aangeslaan het. Helpies het die bal opgepik en vinnig deur die hande gestuur, voordat Van der Spuy oorgeduik het.

Kort daarna is die agtsteman Nathan Lainis oor vir die besoekers om sake met 17-17 gelykop te maak.

Affies se afrigters sou sekerlik terugflitse begin kry het van die skoknederlae wat hul eerste span verlede jaar teen die King Edward VII School en die Westville Boys High School gely het. Albei dié skole het in 2019 die eerste keer in hul bestaan vir Affies geklop. Helpies was laas in 1998 teen Affies baas.

Met die Helpies se sterte in die lug het die Wit Bulle dié slag egter koelkop gebly.

’n Strafdoel deur die heelagter Dieter Crafford het die span van Pretoria se neus weer voor gekry met 20-17. Kort daarna het die kantman Jacques Marais die uitklophou toegedien toe hy oorgeval het ná ’n sterk dryfmaal deur Affies. Crafford het die drie verdoel om Affies se seisoen op die regte noot te laat begin.

Affies se woelige haker Keegan Potgieter was loshande sy span se grootste uitblinker, terwyl die vleuels, Kyle Liebenberg en Qeuwin Nortjé, ook die verdediging besig gehou het.

Wat Helpies betref, het sy kantman Tyler Skudder en Lainis die lewe moeilik gemaak vir Affies by die afbreekpunte, terwyl Van der Spuy ook sy kant gebring het.

Vir die eerste keer sedert die twee skole mekaar in 2014 weer begin pak het (ná ’n derby-droogte van 15 jaar) het Affies elkeen van die 14 wedstryde wat op die dag beslis is, gewen.

* Die Hoërskool Waterkloof was weer die Hoërskool Transvalia se tier met sy sege met 28-15 oor die span van Vanderbijlpark. Dít nadat hy in 2019 met 29-24 gewen het.

* Nadat die Hoër Tegniese Skool Middelburg verlede jaar naelskraap met 27-26 deurgeskraap het teen die Hoërskool Eldoraigne, het die span van Mpumalanga dié keer doodseker gemaak met ’n wegholoorwinning van 66-7.

* Grey-kollege van Bloemfontein het ’n groot waarskuwing aan sy teenstanders vanjaar gerig toe hy die gedugte span van Welkom Gimnasium met 69-33 vermorsel het. Welkom het verlede week vir die Hoërskool Menlopark met 43-7 ore aangesit.

Meer oor:  Skolerugby  |  Helpmekaar  |  Skolesport  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.