Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies vermorsel skole-aflosrekord

Teken gerus die name van Björn van Wyk, André Erasmus, Joshua Nel en Eckhart Potgieter aan.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se Eckhart Potgieter vat die aflosstokkie by Joshua Nel op pad na hul nuwe Suid-Afrikaanse skolerekord in die o.19’s se 4x100 m-aflos. Foto: Marius Nortjé

Dié viertal van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het Vrydag ’n rekord verpletter wat in skoolkringe ’n geruime tyd al ’n status geniet as een wat nie sommer oortref sou word nie.

Toe die laaste skoot van die A-bond se interhoër-atletiekbyeenkoms in die Ruimsig-stadion klap, het dié o.19 4x100 m-aflosspan van Affies die wenstreep in ’n fenomenale amptelike tyd van 40.51 sekondes oorgesteek.

Hiermee het die Witblits, soos die span bekend staan, nie net die byeenkomsrekord aan flarde genael nie, maar hulself onderskei as die vinnigste aflosspan wat enige Suid-Afrikaanse skool nóg opgelewer het.

Die vorige rekord van 40.86 is in 2012 – ook deur Affies – op dié einste byeenkoms opgestel.

Toe het die span uit Marcel de Beer, Pieter Conradie, Constant Pretorius en Andries van der Merwe bestaan.

Dit was egter net een van talle uitsonderlike vertonings.

Nie minder nie as 28 byeenkomsrekords het in die slag gebly, met een wat geëwenaar is.

Mila Compaan van die Hoërskool Menlopark word deur haar spanmaat Marné Herbst aangespoor in die 4x100 m-aflos (o.17’s) wat hulle in ’n byeenkomsrekord van 48,06 gewen het. Foto: Marius Nortjé

Die meisies se ster van die dag was sonder twyfel Hoërskool Montana se Carmie Prinsloo.

Die langasem het rekords in die 800, 1 500 én 3 000 vir o.19’s laat spat.

Prinsloo het Simoné Weitsz van Zwartkop se bestes in 2017 van 2:11.36 in die 800 en 4:35.46 in die 1 500 oortref, en toe ook Nanette Grobbelaar van Menlopark se beste van 10:07.86 in die 3 000, wat in 2006 opgestel is, iets van die verlede gemaak.

Die Montie het die wedlope in besonderse tye van 2:08.57, 4:23.24 en 9:52.66 voltooi.

Die Hoërskool Menlopark se viertal-meisies van Jeanette Venter, Jana Pansergrou, Inaldi Uys en Janie Blignaut het self ’n haas uit die hoed gepluk in die o.19’s se aflos-wedloop toe hulle heelwat inhaalwerk moes doen om die Afrikaanse Hoër Meisieskool verby te steek én die wedloop boonop in ’n nuwe byeenkomsrekord van 48.33 te wen.

Waterkloof het die vorige rekord van 48.64 sedert 2016 gehou.

Hoërskool Waterkloof se Cassidy Lacy (middel) storm na haar eerste plek in die 100 m (o.16’s) in 12.22 sek. met Suricka Nortjé van Garsfontein (links) en Heike van Rooyen van Menlopark kort op haar hakke. Foto: Marius Nortjé

Die Parkies se meisies het boonop die o.17’s se rekord ook nuwe eienaars gegee in 48.06, terwyl Affies se meisies se o.14’s self die byeenkomsrekord in 49.45 verbeter het.

Affies se Van Reenen Kruger het met sy eerste plek in die 110 m-hekkies (o.17’s) in 13.80 die vorige beste van 13.85 oortref, hoewel die windlesing van agter van +1.9 hom goedgunstig was.

Die Parkies se Aiden Smith was die uitskieter in die gewigstoot (o.16’s) waar hy gewen het met ’n nuwe rekordafstand van 18,94 m wat die voltal van 1 200 punte op die Absa-tabel aan hom besorg het, terwyl Affies se Juandré Pienaar meer as 5 m by die spiesgooi-rekord (o.15’s) gevoeg het met sy wenafstand van 65,33 m.

Die Hoërskool Garsfontein se Ulrich van Tonder het die spiesgooi (o.14’s) met ’n beste afstand van 60,05 m vir sy rekord gewen, terwyl die hekkies-blits Wian Kemp ook die voltal op die Absa-tabel in die 100 m-hekkies (o.15’s) behaal het in 12.79, hoewel hy naelskraap die rekord van 12.74 gemis het.

Lesedi Khunou, ook ’n Parkie, het die diskusgooi (o.16’s) se rekord met 65 cm tot 44,06 m verbeter.

* Puntestand in die gemengde afdeling:

1. Hoërskool Menlopark (2 632 punte)

2. Hoërskool Waterkloof (2 136)

3. Prestige College (2 063)

4. Hoërskool Zwartkop (2 010)

5. Hoërskool Garsfontein (1 890)

6. Hoërskool Montana (1 804)

7. Midstream College (1 613)

* Puntestand in die seunsafdeling:

1. Afrikaanse Hoër Seunskool (1 328 punte)

2. Hoërskool Menlopark (1 209)

3. Prestige College (1 123)

4. Hoërskool Waterkloof (1 048)

5. Hoërskool Garsfontein (1 023)

6. Hoërskool Zwartkop (1 005)

7. Hoërskool Montana (853)

8. Midstream College (826)

* Puntestand in die meisiesafdeling:

1. Hoërskool Menlopark (1 423 punte)

2. Afrikaanse Hoër Meisieskool (1 364)

3. Hoërskool Waterkloof (1 088)

4. Hoërskool Zwartkop (1 005)

5. Hoërskool Montana 951)

6. Prestige College (940)

7. Hoërskool Garsfontein (867)

8. Midstream College (787)


Meer oor:  Atletiek  |  Skolesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.