Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies verniel Maritzburg, Grey klap Kloof

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het Saterdag een van sy beste vertonings van die seisoen gelewer toe hy Maritzburg College in Pretoria met 78-16 platgevee het.

Affies, wat vanjaar soms harde bene gekou het, het na ’n doelgerigte eenheid ná die skoolvakansie gelyk en 12 drieë teen die KwaZulu-Natallers ingeryg om hul grootste sege nog oor die span van Pietermaritzburg aan te teken.

Die skole het mekaar die eerste keer in 1996 gepak. Affies was nog net drie keer in 25 wedstryde in dié bepaling aan die verkeerde kant van die telbord. Die punteverskil van 62 is ook die grootste nog.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se binnesenter, Gerrard Botha, strek met sy hand uit om een van sy drie drieë teen Maritzburg College te druk.Foto: Riaan de Bruyn

Die binnesenter, Gerrard Botha, was oral. Sy ondersteunende spel en hardlooplyne was verwoestend. Hy is met ’n driekuns beloon, terwyl die flank MJ Janse van Rensburg self twee keer gaan druk het.

Die Grey-kollege van Bloemfontein het na Pretoria opgeruk waar hy vir die Hoërskool Waterkloof ’n deeglike rugbyles geleer het.

Die span van die Rosestad het met 63-27 die pyp gerook. Dis die tweede agtereenvolgende jaar dat die Klofies se Blou Tornado getem is nadat Grey in 2018 met 60-15 baas was.

Die Vrystaters het skoonskip op die A-veld gemaak met sy o.14’s (81-0), o.15’s (55-12) en o.16’s (73-0) wat ook skade aangerig het.

Buiten die wedstryde teen Waterkloof, het sy tweede span, meer bekend as die Cherries, boonop die Hoërskool Noordheuwel se eerste span in die grond in gespeel en met 60-19 gewen.

Glenwood High School van Durban het sweet getap om vir die Hoër Tegniese Skool Middelburg met 26-22 te troef.

Die Green Machine van Durban was in ’n stadium met 26-10 voor, voordat die Rooi Bulle skielik wakkergeskrik het. Dit was egter te min te laat vir die manne van Mpumalanga.

Die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) het hopeloos te veel skietgoed gehad vir die Hoër Landbouskool Oakdale en hulle met 42-0 geklop.

In die Virsekerbeker-reeks was groot tellings ook aan die orde van die dag.

Hoërskool Monument en Helpmekaar Kollege het vir die eerste keer sedert 1997 in Krugersdorp swaarde gekruis met die tuisspan wat met 41-31 geseëvier het.

Dit was die Helpies se eerste nederlaag in die reeks vanjaar.

Monnas is in die tweede helfte so byna die skrik op die lyf gejaag toe Helpmekaar verbete probeer terugbaklei het nadat die tuisspan rustyd met 19-0 in die saal was.

Sy losskakel, Herschelle Goodman, was egter die grootste verskil tussen die spanne en het ook drie keer agter die doellyn gaan draai. Hy is welverdiend as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Hoërskool Garsfontein het vir die Hoërskool Dr. EG Jansen met 80-38 die loef afgesteek, terwyl Hoërskool Menlopark vir Hoërskool Transvalia van Vanderbijpark met 69-22 verwoes het.

Die Hoërskool Oos-Moot in Waverley het die Hoërskool Zwartkop met 52-5 met die stert tussen die bene gelaat.

Die Oosies se buitesenter, Ruan de Lange, het boonop ook ’n driekuns voltooi.

Meer oor:  Virsekerbeker  |  Maritzburg College  |  Garsfontein  |  Menlopark  |  Grey-Kollege  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.