Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Antoinette bewys van talent in SA

Die hekkiesloper Antoinette van der Merwe, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Eldoraigne, het verlede week gewys daar wag ’n blink toekoms vir Suid-Afrika in dié nommer.

Sy was Vrydag in ’n klas van haai eie by die Hoërskool Randburg se Prestige-atletiekbyeenkoms, wat by Ruimsig-atletiekstadion gehou is.

Antoinette van der Merwe van Hoërskool Eldoraigne het die 100 m-hekkies en 200 m vir o.19-meisies gewen. Foto: Marius Nortjé

Van der Merwe, wat verlede jaar die goue medalje gewen het by die Streek 5-Jeugspele in Gaborone, Botswana, het in die 100 m-hekkies én die 200 vir o.19-meisies koning gekraai.

Sy het haar voorkeurnommer, die 100-hekkies in 14.48 sekondes afgeblits en daarna boonop Prestige College se steratleet Rose Xeyi in die 200 ore aangesit met ’n tyd van 23.86. Xeyi was tweede in 24.51.

Van der Merwe is een van talle jong hekkieslopers wat in die afgelope twee jaar haar stem dik gemaak het.

Die Hoërskool Klerksdorp se Kayla van der Bergh en Helpmekaar Kollege se Megan Starbuck is ook twee name wat gerus vanjaar dopgehou kan word.

Hoërskool Randburg se Zonica Lindeque was weer die voorste atleet in haar nommer toe sy die gewigstoot vir o.15-meisies gewen het met ’n afstand van 15.10 m en daarna sommer die diskus-titel ook verower het met ’n poging van 43.43 m.

Die jong reus van die Hoërskool Monument, Cian de Villiers, het in dieselfde ouderdomsgroep (vir seuns) dubbele glorie behaal in die gewigstoot (19.97 m), asook die diskus (57.09 m).

Hy was die enigste seun wat die voltal van 1 200 punte op die Absa-tabel kon insamel.

Shannon Botha (o.16) van Hoërskool Randburg op pad na ’n nuwe byeenkomsrekord van 04:47.22 in die 1 500 m. Foto: Marius Nortjé

Die Hoërskool Randburg se Shannon Botha het gewys sy’s topfiks deur haar slag in nie minder nie as vyf items te wys.

Sy het die 1 500 m vir o.16-meisies gewen in 4 minute, 47.22 sekondes, waarna sy tweede was in die hoogspring nadat sy oor ’n hoogte van 1.50 m oor die dwarslat geseil het. Sy het boonop vyfde in die spiesgooi klaargemaak met ’n afstand van 30.60 m, derde in 400 geëindig in 59.68 en was 12de in die 800 in 2:43.82.

Yexi het die 100 vir o.19-meisies in 12.06 gewen.

Fina Dube van Hoërskool Vorentoe was op haar beurt die wenner in die 800 (2:16.12) én 400 (58.18), terwyl haar klasmaat Dipuo Mashamaite die 1 500 gewen het in 4:52.27.

In die seuns se naellope was daar ook ’n paar skitter-vertonings.

Sifiso Miya (o.19) van Prestige College het die 100 in 10.63 afgeblits, terwyl Monnas se Olebogeng Tlhapi dieselfde nommer in die o.17-afdeling in 10.78 baas was.

Tlhapi het ook die 200 naelskraap gewen in 22.10, met Prestige College se Rappie Nkhahle net-net tweede in 22.22.

Hoërskool Zwartkop se Zander von Stade het die 200 vir o.19-seuns in 21.66 gewen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.