Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
SA skolerugby: Beste op planeet Aarde!

Die fout in Suid-Afrikaanse rugby moet maar in die stelsels ná skool gesoek word.

Die Suid-Afrikaanse skolespanne was gister op Stellenbosch tydens die tweede jaarlikse Wêreldskolefees in die Markotter-stadion te sterk vir hul eweknieë uit Nieu-Seeland.

Andrew Pegg, regtervleuel van Paul Roos Gimnasium, trek Napier Boys’ High se buitesenter, Jack Sheridan, plat in ’n skitterende duikslag. Pegg se spanmaat Kade Wolhuter hou sake dop.Foto: Frans Lombard/Actionpix

In die 20 wedstryde gedurende dié fees het die Suid-Afrikaanse spanne die wedstryde teen die Res-van-die-wêreld met ’n gemiddeld van 44-19 gewen.

Die enigste span van die Res-van-die-wêreld wat ’n oorwinning kon behaal, was die Wêreldskole XV-tal. Die span het uit ’n saamgestelde span uit Suid-Afrika plus drie Italianers bestaan.

Die span is deur SA Rugby saamgestel en spelers wat moontlik vanjaar die SA Skole-span kan haal en wie se skole nie ’n uitnodiging na die toernooi gekry het nie, is vir die span gekies.

As dié span se twee oorwinnings uit die prentjie gelaat word, het die Suid-Afrikaanse spanne die wedstryde met gemiddeld 44-14 gewen.

In die hoofwedstryd van die week het Paul Roos Gimnasium, Suid-Afrika se naasbeste span van 2018, teen Napier Boys’ High van Nieu-Seeland met 62-7 as oorwinnaars van die veld gestap.

Napier Boys’ High het verlede jaar in die Nieu-Seelandse eindstryd teen St Peter’s College van Auckland met 28-31 die knie gebuig. Die goeie nuus is dat Paul Roos en St Peters se paaie dalk later vanjaar tydens die Sanix-toernooi in Japan gaan kruis.

Daar is ook duidelik ’n streep in die sand getrek en Suid-Afrika se voorste skolespan vir 2019 behoort in die kragmetings tussen Paul Roos, Grey-kollege en Paarl Gimnasium beslis te word.

Paul Roos se vleuel Luke Burger het drie keer agter die doellyn gaan draai. Die loskopstut, Robbie Rodgers, senter Ruben Labuschagne en die losskakel, Kade Wolhuter, is almal spelers om van kennis te neem.

Grey-kollege het nie gesukkel om Southland Boys’ High met 54-0 te klop nie. Die Nieu-Seelanders het geleer uit hul nederlaag op die tweede dag teen Paul Roos (93-5) en het die wedstryd stadiger probeer maak.

Van Grey se flank George Cronjé en slot Danwich Beukes gaan daar nog baie gehoor word. Agterlangs is die senter Lesley Botha ’n klipharde speler wat nie sommer platgetrek word nie, terwyl hy ’n paar manne hard na hul asems laat snak het met sy plettervatte.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het byna die enigste Suid-Afrikaanse span geword wat teen een van die oorsese besoekers verloor.

Affies se heelagter, Dieter Crafford, het die skrumskakel, Michael van Aswegen, se drie met speeltyd reeds verstreke verdoel om die telling op 31-elk gelykop teen Christchurch Boys’ High te trek.

Boland Landbou het te veel skietgoed vir die Amerikaanse Skole XV-tal gehad en met 71-3 geseëvier.

Boland Landbou se flank Jacques Mostert kan ’n sterk aanspraakmaker wees om later vanjaar die SA Skole-span te haal.

Hilton College se linkervleuel, Joshua Cox, was met ’n driekuns aan drieë die held in sy span se oorwinning van 34-15 oor die Italiaanse XV-tal.

Oos-Moot van Pretoria het sy titel as kampioen van die grootste rugbyweek ter wêreld, die Hansie-week in Mookgophong (Naboomspruit), behou deur in die doodsnikke die Hoërskool Klerksdorp met 15-14 te troef.

Sy skrumskakel, Keegan Kuhn, het met speeltyd reeds verstreke oorgeduik om aan sy span die naelskraapste van seges te besorg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.