Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Blink toekoms vir Grey se Sisonke

Toe Sisonke Vumazonke kleintyd die eerste keer ’n rugbybal opgetel het, sou hy nooit kon droom dat hy eendag Grey-kollege op die rugbyveld sou lei nie.

Maar vroeër die maand het dié 18-jarige boorling van Welkom, wat op agtsteman sak, die beroemde rugbyskool in Bloemfontein die eerste keer aangevoer.

Grey-kollege se Sisonke Vumazonke in 2019 in aksie vir die Suid-Afrikaanse Skole-A-span in Wellington. Foto: Gallo Images

Dit was toevallig teen Welkom-Gimnasium, die skool waar hy sy hoërskoolloopbaan begin het.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring om Grey daardie eerste keer op die veld te lei. Ek het soveel liefde vir die skool, dit is net ’n eer,” sê Vumazonke.

Hy het ook ’n stukkie geskiedenis agter sy naam geskryf deur die eerste speler van kleur te word om Grey aan te voer.

Maar Vumazonke, wat verkies om deur voorbeeld te lei, sê dit was die laaste ding waaraan hy gedink het.

“Ek glo as jy deur voorbeeld lei, en jou spanmaats sien waarheen jy die span wil neem, sal hulle jou voorbeeld volg.”

Vumazonke sê dat hy die meeste lesse oor leierskap by Richie McCaw, voormalige losvoorspeler en kaptein van die All Blacks, geleer het. Met dié Kiwi as kaptein, het Nieu-Seeland immers twee keer die Wêreldbekertoernooi gewen.

“Richie was ’n goeie leier, dit is wat ek eerste van hom raakgesien het. Ja, ook ’n goeie speler, maar veral ’n leier.

“Hy was so half ’n buiteperd, dalk ook hoe ek myself sien,” sê Vumazonke.

Sy liefde vir die ovaalbal het as sewejarige kannetjie in Welkom begin toe hy begin rugby speel het. Wanneer hy op die rugbyveld is, is dit al wat saakmaak.

“Wanneer ek rugby speel het ek geen bekommernisse nie. Dit is al waarin ek in daardie tyd kan dink. Die rede is eintlik heel eenvoudig: My fokus is by dit wat op die veld gebeur,” sê Vumazonke.

Hoewel hy in 2019 die Suid-Afrikaanse Skole-A-span as slot gehaal het, sien hy tog vir hom ’n toekoms as ’n losvoorspeler.

“My droom vir die volgende vyf jaar is om Superrugby te speel. Maar ek sal waarskynlik eers studeer. My eerste keuse is die regte, anders logistiek of sakebestuur.”

Met die Covid-19-pandemie wat die laaste week die wêreld getref het, het Vumazonke na sy ouerhuis teruggekeer. Sy ouers woon deesdae in Oos-Londen.

Meer oor:  Skolerugby  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.