Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Boishaai, Grey Kollege skop skolereeks af

Skolerugby is nou weer goed op dreef ná meer as ’n jaar in die wildernis.

Die afgelope Noord-Suid-toernooi, tesame met die Hoërskool Monument se Eeufeestoernooi, het daarop gedui dat die Wes-Kaapse skole tans die toonaangewers is.

Wat die groot kanonne betref, is die Wes-Kapenaars se rekord teenoor hul teenstanders van Gauteng, Vrystaat en Limpopo vanjaar tans 18 gespeel, 17 gewen, een verloor.

Monument se oorwinning met 28-26 oor die Hoër Tegniese Skool Drostdy van Worcester was die enigste deur ’n span van die noorde.

Paarl Gimnasium en sy buurman die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), sowel as die Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal, die Hoërskool Outeniqua van George en die Hoërskool Stellenberg het sover uitstekende peil ten toon gestel.

Paarl Gimnasium se losskakel, Liam Koen, se skopstewel sal vanjaar een van die Paarliete se grootste wapens wees. Foto: Frans Lombard

Gimmies se oorwinning met 18-16 oor die magtige Grey Kollege van Bloemfontein, tesame met Boishaai se oortuigende sege oor Monument met 34-18 en Oakdale se geskiedkundige oorwinning oor die Afrikaanse Hoër Seunskool met 46-21 dui vroeg in die seisoen op opwindende tweestryde wat veral in die Wes-Kaap verwag kan word.

Dit is daarom geen verrassing nie dat die Premier Interschools-reeks vanjaar vanaf 8 Mei tot 4 September sy terugkeer maak met ’n fokus op die suide.

Gimmies en Boishaai se stryd op 14 Augustus is sonder twyfel die grootste op dié lys bepalings, met die hele Paarl wat ’n week lank kant sal kies in dié derby, wat al meer as ’n eeu oud is en as die grootste interskole-wedstryd in die wêreld beskou word.

Met albei spanne wat vanjaar weer na die ware Jakob lyk, sal dié een groot belangstelling ontlok.

Pretoria Boys High se Candies sal die eerste keer sedert 2014 weer in dié reeks, wat regstreeks op SuperSport uitgesaai word, in aksie wees. Outeniqua se Kwaggas is ook terug nadat hulle nie in 2019 kans gekry het in dié kompetisie nie.

Saterdag sal een van die seisoen se grootste skolekragmetings reeds beslis word wanneer Grey Kollege die pad na die Paarl aandurf om swaarde met Boishaai te kruis.

Hoewel die Vrystaters in hul eerste wedstryd van die seisoen vasgeval het, was hulle vinnig terug op hul voete en het hulle die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg (43-15) en die Hoërskool Menlo Park (51-19) gestoomroller.

Boishaai is nog onoorwonne in 2021 en sal op dié rekord wil voortbou.

Op 15 Mei sal Bishops van Kaapstad met Paul Roos Gimnasium kragte meet.

Bishops sal desperaat wees om ná meer as ’n dekade die bordjies eindelik te verhang nadat hulle in 2010 (33-23) laas baas was teen die Stellenbossers.

In 2013 het die twee spanne die louere gedeel (22-22), maar in al hul ander ontmoetings tussendeur het die Maroen Masjien die pyp gerook.

In Junie is die stryd tussen Grey Kollege en Monnas een om na uit te sien. Die skool van Krugersdorp vier sy 100ste bestaansjaar en sal op 19 Junie, op sy tuisveld, met ’n spesiale oorwinning oor die Bloemfonteiners wil vorendag kom.

Die volledige Premier Interschools-bepalingslys is:

8 Mei: Hoër Jongenskool Paarl t. Grey Kollege

15 Mei: Bishops College t. Paul Roos Gimnasium

22 Mei: Grey High School t. Wynberg Boys’ High

29 Mei: Grey Kollege t. Oakdale Landbou

5 Junie: Paul Roos Gimnasium t. Hoër Jongenskool Paarl

12 Junie: Paul Roos Gimnasium t. Grey High School

19 Junie: Monument t. Grey Kollege

26 Junie: Paarl Gimnasium t. Outeniqua

31 Julie: Maritzburg College t. Affies

14 Augustus: Hoër Jongenskool Paarl t. Paarl Gimnasium

21 Augustus: Affies t. Pretoria Boys High

4 September: Bishops t. Rondebosch Boys’ High

Meer oor:  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.