Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Boishaai onttrek aan rugbytoernooi

Die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) sal nie in 2019 aan die tweede weergawe van die Wêreld-skolerugbyfees deelneem nie.

Dié toernooi, wat vanjaar vir die eerste keer by Brugstraat deur Boishaai aangebied is, was die geesteskind van die eerste span se breier, Sean Erasmus, as deel van die skool se 150ste verjaardagvieringe.

Die Hoër Jongenskool Paarl sal nie in 2019 aan die Wêreld-skolerugbyfees deelneem nie. Foto: Argief

Carinat Sports Marketing het ingetree om die toernooi op die been te help bring en die voormalige Springbok-breier Heyneke Meyer het ook ’n rol gespeel om die kompetisie ’n werklikheid te maak.

“Ons oorspronklike kontrak met die geleentheid se organiseerders, Carinat, het ons die opsie gegee om die toernooi vir nog twee jaar aan te bied, maar ná lang gesprekke is daar besluit om die toernooi eerder jaarliks rond te skuif, soortgelyk aan die Cravenweek-toernooi,” het die skool Woensdag in ’n verklaring gesê.

Die gevolg is dat die toernooi volgende jaar by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied sal word. Die Maroen Masjien het nie aan vanjaar se toernooi deelgeneem nie.

Die reëlings vir volgende jaar se toernooi het met heelwat onsekerheid gepaard gegaan en Boland Landbou was byna sy plek kwyt, ondanks die feit dat hy een van die uitblinkerspanne in vanjaar se toernooi was. Hy het oortuigende seges oor Napier Boys’ High van Nieu-Seeland (59-26) en die Cavaliers van Australië (67-0) behaal.

Boland Landbou sou sy plek moes prysgee om vir Boishaai ’n geleentheid te gee om weer deel te neem, maar daar is later voorgestel om die twee skole eerder elk ’n enkele wedstryd in die toernooi te laat speel, ’n voorstel waaroor Carinat glo nie baie opgewonde was nie.

Boishaai het egter toe besluit om aan die toernooi te onttrek sodat Boland Landbou wel in 2019 sy staal teen die buitelanders kan wys.

“Ongelukkig sou Boland Landbou ’n geleentheid misgeloop het by volgende jaar se toernooi oor die aanvanklike onsekerheid en laat veranderinge wat gemaak is.

“As gevolg daarvan het Paarl Boishaai onttrek aan 2019 se toernooi om vir Boland Landbou ’n plek te gee aangesien ons gevoel het hulle was onskuldige slagoffers van die laat veranderinge.”

Desondanks was Boishaai steeds dankbaar vir die geleentheid om die eerste gasheer te kon wees.

“Ons was bevoorreg om 21 000 toeskouers by Brugstraat te gehad het in die loop van die week.

“Ons wens Paul Roos alle sterkte toe vir volgende jaar se geleentheid en sal graag wil sien dat die Wêreld-skolerugbyfees die beste vertoonvenster vir skolerugby in die wêreld word,” sê die skool.

Paarl Gimnasium sal sy plek in volgende jaar se toernooi behou.

Meer oor:  Skolerugby  |  Boishaai  |  Wêreld-Skolerugbyfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.