Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Boishaai oorkom Paul Roos

Skaars ’n maand gelede is Paul Roos Gimnasium se rugbyspan nog as een van die brekers van skolerugby in Suid-Afrika beskou.

Saterdag in die Paarl het die span van Stellenbosch sy tweede agtereenvolgende nederlaag gely toe die Hoër Jongenskool Paarl hom met 29-16 geklop het.

Boishaai se Angelo Osch duik in die doodsnikke oor vir sy drie. Foto: Gallo Images

Boishaai het drie drieë gedruk, terwyl Paul Roos slegs een keer die tuisspan se doellyn kon oorsteek.

Daar is vooraf groot gewag gemaak van die wedstryd tussen die losskakels, Boishaai se Kian Meadon en Paul Roos se Kade Wolhuter.

Tog was dit Boishaai se senter Quan Horn wat die groot uitblinker was. Nie net het hy ’n drie gedruk nie, maar ook met sy kraglopies beïndruk. Meer nog beskik hy oor die vermoë om ’n teenstander te duik en dadelik op te vlieg en omgekeerde besit te bewerkstellig.

Nie dat Meadon en Wolhuter teleurgestel het nie.

Meadon het in die eerste helfte ’n reuse strafdoel uit sy span se helfte van die veld deur die pale gejaag.

Voeg in die tweede helfte het hy ’n skoppie gegee, met die agtsteman, Gideon van Wyk, wat afgerond het.

Wolhuter was sy span se beste speler, maar dit was soos een man teen ’n oormag. Boonop was dit of die spelers aan sy buitekant lood in hul voete gehad het.

Een aspek van Paul Roos se spel wat krediet verdien, is die verdediging waar hy veral in die eerste helfte die tuisspan van sy doellyn af gehou het.

Maar Paul Roos, wat die derby-wedstryd verlede jaar op ’n drafstap met 44-8 gewen het, se probleme het voorlangs begin waar hy soos verlede week teen Paarl Gimnasium balbesit in die lynstane afgestaan het.

Nie dat Boishaai se lynstane perfek gewerk het nie. Boonop het die tuisspan hom veral in die eerste helfte aan ’n wavrag oortredings by die losgemale skuldig gemaak.

Maar uiteindelik het Boishaai, wat tot almal se verbasing verkies het om die bal voorlangs te hou, genoeg gedoen om die kragmeting te beklink.

Toe die tuisspan wel teen die einde die bal die werk laat doen het, het die vleuel Angelo Osch deur Paul Roos se verdedigers genael en gesystap om die finale spyker in die Stellenbossers se doodskis te slaan.

Die oorwinning laat onwillekeurig die vraag ontstaan oor die gehalte van teenstand by Sanix se Wêreld-Jeugrugbytoernooi in Japan wat Paul Roos vroeër vandeesmaand op ’n drafstap gewen het.

* Puntemakers:

Boishaai 29 (16): Drieë: Quan Horn, Gideon van Wyk, Angelo Osch. Doelskop: Kian Meadon. Strafdoele: Meadon (3), Jacques Rousseau.

Paul Roos 16 (9): Drie: Luke Burger. Doelskop: Kade Wolhuter. Strafdoele: Wolhuter (3).

Meer oor:  Skolerugby  |  Boishaai  |  Paul Roos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.