Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Boishaai sou notas oor Grey gemaak het

Die strafskoppe wat Grey Kollege se rugbyspan die afgelope naweek by die Noord-Suid-toernooi in die skrums afgestaan het, sou nie ongesiens by die Hoër Jongenskool Paarl se afrigterskorps verbygegaan het nie.

Dié twee spanne is die komende naweek in die Paarl slaags in een van die hoogtepunte op die skolerugbykalender.

Albei die spanne het Saterdag oorwinnings in hul laaste wedstryd by die toernooi in Pretoria behaal – wat natuurlik wondere vir die selfvertroue sal doen.

Grey het Dr EG Jansen met 43-15 gewen, terwyl Boishaai Monument met 34-18 geklop het.

Gee pad! Merwe Olivier, slot van Grey Kollege, het ’n paar keer die verdedigers van Dr EG Jansen laat bontstaan. Foto: Marius Nortjé

Die Bloemfonteiners het ’n paar keer gevaarlik gelyk en sewe drieë gedruk, met veral hul losskakel, Jean Smith, wat beïndruk het. Smith het twee drieë gedruk en ’n paar keer gapings in die span van die Oos-Rand se verdediging gevind.

Die oë sou egter gerek het oor hoe gereeld Grey by die skrum gestraf is, met Dr EG Jansen wat ook ’n vaskop gehak het. Boonop is twee van Grey se spelers, JF van Heerden (slot) en Ferdi Vergottini (flank), met geelkaarte van die veld gestuur.

Maar Jannie Geldenhuys, Grey se afrigter, sê “daar was bietjie oorgretigheid by die spelers”.

“Soos wat Wian (Du Preez, hulpafrigter) opmerk het, dit is asof jy met 15 spelers te doen het wat hul terugkeer maak van langtermynbeserings.

“Maar ek is tevrede met hoe dinge verloop het. Ons sal in die komende week aandag gee aan aspekte soos om ons reaksietyd te verbeter en om vinniger na die bal te gaan,” sê Geldenhuys.

Behalwe Smith het die slot Merwe Olivier ook goeie spel gelewer en veral as baldraer aandag getrek.

Vir Boishaai se afrigter, Peter Engledow, was sy span se oorwinning oor Monnas ’n goeie kleedrepetisie vir die kragmeting met Grey.

“Ons is baie bly oor die oorwinning. Monnas is een van die skole wat nog nie daarin kon slaag om ons te klop nie, so hulle het ons getakel. Vir hierdie seuns was dit ’n reuse wedstryd, omtrent soos ’n toets,” sê Engledow.

Compion von Ludwig, losskakel van die Hoër Jongenskool Paarl, sit Saterdag op ’n lopie af teen Monument in Pretoria. Foto: Marius Nortjé

Verskeie spelers van Boishaai soos Luca Ribbons (slot), Compion von Ludwig (losskakel) en Luke van Schoor (vleuel) het goeie vertonings gelewer.

Ribbons is ’n breker met die bal in die hand, terwyl Von Ludwig ’n oog vir ’n gaping het en weet hoe om die beste uit die spelers aan sy buitekant te kry.

Von Ludwig het later in die wedstryd teen Monnas binnesenter toe geskuif, met Cobus Louw wat op losskakel diens gedoen het.

Elke keer dat Van Schoor die bal gekry het, het hy gevaarlik gelyk, terwyl hy ook stewig op die verdediging vertoon het.

Een van die dinge waaraan Engledow-hulle in die komende week moet aandag gee, is die getal strafskoppe wat teen Monnas afgestaan is.

“Ons moet seker maak dat ons vaste fasette reg werk. Daar was tye dat Monnas ons ’n bietjie in die lynstane ontwrig het,” sê Engledow.

“Dan ook moet ons verdediging goed wees. Grey is baie sterk op die aanval, en ons moet hulle kan keer. Maar ons wil ook goed vertoon op die aanval; ons het regtig ’n klomp goeie spelers wat baie gevaarlik kan wees met balbesit.”

Ander uitslae van Saterdag se wedstryde by die Noord-Suid-toernooi:

Durbanville 36, Noordheuwel 5;

Paarl Gimnasium 52, Helpmekaar Kollege 5;

Nelspruit 34, Duineveld 7;

Outeniqua 60, Marais Viljoen 3;

Afrikaanse Hoër Seunskool 31, Welkom-Gimnasium 26.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.