Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Boishaai stel Ierse toer uit oor virus

Die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) se eerste rugbyspan sal nie meer in Maart sy toer na Ierland aanpak nie.

Só het die skool Donderdagaand in ’n verklaring gesê.

Die Hoër Jongenskool Paarl moes sy rugbytoer na Ierland uitstel weens die Covid 19-virussiekte.Foto: Gallo Images

Boishaai sou op 21 Maart die o.19-span van die Europese rugbyreuse Leinster in Dublin gepak het met ’n wedstryd teen Munster se o.19’s wat op 24 Maart in Limerick sou wag. Die span sou ook teen ’n klubspan van Cork, die tweede grootste stad in Ierland, te staan kom op ’n toer wat twee weke sou duur.

“Ná ’n dringende vergadering vanaand (Donderdagaand) het die beheerliggaam van Paarl Boishaai besluit om nie meer na Ierland in Maart te toer nie,” het die skool luidens sy verklaring gesê.

Die skool sê dat hy egter steeds sal probeer om die toer vanjaar ’n werklikheid te laat word, dalk eers in September.

“Volgens die voorsitter, mnr. Ritz de la Bat, is die situasie deeglik gemonitor, maar het nou ’n punt bereik waar dit nie meer ’n opsie is om Ierland in Maart te besoek nie.

“Met alle skole, klubs en toeriste-aantreklikhede in Ierland wat gesluit is, sowel as alle rugby in Ierland wat gekanselleer is, het ons geen ander keuse gehad nie.”

Boishaai het Woensdag vir Rondebosch Boys High met 15-5 geklop by die Nuweland-rugbydag waar spanne net 20 minute aan ’n kant speel en daar ook nie pale toe aangelê word nie.

Boishaai se volgende wedstryd sal teen die gedugte span van die Hoërskool Monument wees wanneer die twee spanne Saterdag by Porterville se sportfees kragte sal meet.

Dié twee spanne het verlede jaar by die Noord/Suid-toernooi teen mekaar gespeel, met die Paarliete wat die span van Krugersdorp in ’n opwindende stryd met 35-31 getroef het.

Boishaai se laaste oorsese toer was in 2017 toe die skool na Nieu-Seeland getoer het met sy eerste, tweede en derde span asook twee o.16-spanne.

Boishaai het toe teen Sacred Heart College, Gisborne Boys High School, Nelson College en Christchurch Boys High te staan gekom.

Sy eerste span het toe tydens ’n uitstekende toernooi vir Sacred Heart met 24-8 geklop, waarna hy vir Gisborne Boys High met 73-3 geslag het en Nelson College met 81-12 afgeransel het. Die span het egter in sy laaste toerwedstryd teen ’n sterk span van Christchurch Boys High met 36-38 vasgeval.

Meer oor:  Skolerugby  |  Boishaai  |  Koronavirus  |  Hoër Jongenskool Paarl  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.