Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Boishaai wéér bo in Paarl Interskole

Die Hoër Jongenskool Paarl is vir die vierde agtereenvolgende jaar Paarl Gimnasium se tier nadat hy met ’n spesiale vertoning vorendag gekom het om sy aartsvyande met 24-21 te troef.

Vir die span se breier, Sean Erasmus, was dit die ideale swanesang, met dié legende in skolerugbykringe wat hom binnekort by die Goue Leeus in Johannesburg sal aansluit nadat hy in 2014 die Paarliete begin afrig het.

Javiar Farmer van die Hoër Jongenskool Paarl druk een van sy twee drieë teen Paarl Gimnasium. Foto: Jaco Marais

Lof moet Boishaai besing word vir die uitstekende veggees wat hulle gewys het in ’n kragmeting waar hulle ná ’n wipplankseisoen in 2018 nie as die gunstelinge beskou is nie. Maar soos ondersteuners van dié beroemde derby kan getuig: Enigiets is moontlik op die Paarl Interskole.

Sake het vroeg reg geloop vir Paarl Gimnasium toe die binnesenter en kaptein, Dawid Kellerman, agter die kalklyn besoek afgelê het met die losskakel Charl Janson wat verdoel het om Gimmies ’n 7-0-voorsprong te gee.

Die Boishaai-heelagter, Trent Sivertsen, het sy span se rekening met ’n strafdoel geopen om die gaping tot 7-3 te laat krimp.

Gimmies het die meeste van die speelwerk in die eerste helfte gedoen, maar kon eenvoudig nie die punte wys nie.

Met Gimmies op die aanval het Boishaai die gety egter geswaai met ’n drie teen die verloop van die spel toe die binnesenter, Noegh Hayward, die bal by Kellerman afgeneem het, die linkervleuel, Javiar Farmer, aan die buitekant gevind het, en hom weggestuur het om onaangeraak oor te draf vir sy span se eerste drie. Sivertsen het verdoel om aan Boishaai ’n naelskraapse voorsprong van 10-7 met die omdraaislag te gee.

Foute het in Gimmies se spel ingekruip en toe Boishaai se skrumskakel, Simon Carstens, koelkas toe gestuur is, kon die alma mater van legendes soos Jean de Villiers en Schalk Burger nie die voordeel uitbuit nie.

Boishaai het in ’n kwessie van vier minute die wind uit Gimmies se seile geneem toe eers die agtsteman, Evan Roos, ’n briljante lopie afgerond het en Farmer direk daarna sy tweede ingeryg het.

Gimmies het verwoed terugbaklei en sy agtsteman, Juan Wilson, het gaan druk, met Janson wat verdoel het.

Kellerman het ’n goeie beweging afgerond met ’n verdoelde drie om sy span binne trefafstand te bring, maar dit was net te min, te laat en Boishaai sal vir die volgende jaar weer die spogregte geniet.

Vir Boishaai kan die vertoning van Roos uitgelig word. Hy was kolossaal en het gereeld spelers na lug laat gryp met sy kraglopies, terwyl hy ook op die verdediging uitgeblink het.

Vir Gimmies het Kellerman alles in die stryd gewerp en kan tevrede voel, selfs al kon sy span dit eindelik nie deurtrek nie.

Puntemakers:

Hoër Jongenskool Paarl 24 (10): Drieë: Javiar Farmer (2), Evan Roos. Doelskoppe: Trent Sivertsen (3). Strafdoel: Sivertsen.

Paarl Gimnasium 21 (7): Drieë: Dawid Kellerman (2), Juan Wilson. Doelskoppe: Charl Janson (3).

Meer oor:  Boishaai  |  Paarl Gimnasium  |  Interskole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.