Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Boishaai werk hard vir sege oor Kwaggas
Tiaan Pretorius van Paul Roos Gimnasium probeer deur die verdediging van ’n Bishops-teenstander bars in dié spanne se kragmeting Saterdag.Foto: Gallo Images

Hoër Jongenskool Paarl se sewende agtereenvolgende oorwinning oor Outeniqua en die ietwat verrassende sege van Durbanville oor SACS is onder die glanspunte van die afgelope Saterdag se eerste reeks amptelike o.19A-wedstryde dié seisoen in die Wes-Kaap.

Die heerlike rugbyweer het meegebring dat meer as 50 punte in die meeste van die vernaamste wedstryde opgestapel is – met onder meer 93 punte in die kragmeting waarin die Landbouskool Boland 62-31 teen die Seunskool Wynberg gewen het.

HJS Paarl, wat aanvanklik ’n mooi voorsprong teen Outeniqua opgebou het, is algaande deeglik opgekeil deur die besoekers van George. Uiteindelik het albei spanne vier keer agter die doellyn gaan draai, maar die Boishaaiers se akkurate stelskopwerk was deurslaggewend op pad na die oorwinning van 34-26.

Paarl Gimnasium (31-10 t. Bishops) en Paul Roos (31-7 t. Rondebosch) het te veel skietgoed vir hul teenstanders gehad. Rondebosch het die Stellenbossers aan die begin goed in toom gehou totdat Paul Roos geleidelik die oorhand gekry het. In die sprankelende rugby wat in Landbouskool Boland se wedstryd teen Wynberg gesien is, is die doellyn 14 keer oorgesteek – 10 keer deur die Landbouers.

Hoewel Durbanville die meeste balbesit in sy wedstryd teen SACS bekom het, was dit die Nuwelanders wat met die draaislag ’n geringe voorsprong gehad het. Die Durbies het egter skuins voor die eindfluitjie die hef in die hand gekry om met 33-24 te wen. In ’n kragmeting wat ontsier is deur die baie foute, was Stellenberg met 31-10 te sterk vir Brackenfell.

Op Riversdal het die Landbouskool Oakdale met 42-40 deurgeskraap teen HTS Drostdy. Albei spanne het ses drieë gedruk, maar die tuisspan se meer akkurate stelskopwerk het die oorwinning beklink.

Hopefield het tydens ’n baie suksesvolle toer in die afgelope skoolvakansie in Ierland net ’n enkele drie in sy drie wedstryde afgestaan. Die Bolanders het 51-0 teen Carrick on Suir, 29-7 teen Munster en 45-3 teen Cill Dara gewen. Die Hopefielders se o.19B-span het egter kwaaier teenstand ondervind en kon net in een van die drie wedstryde (teen dieselfde teenstanders) die pyp rook nie. – Sarel Burger

Meer oor:  Skolerugby  |  Paul Roos Gimnasium
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.