Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Bok-triomf ‘baken van hoop’

Die beeld van die Springbokke wat Saterdag die William Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, sal sonder twyfel die deur wawyd oopmaak vir ’n hele nuwe generasie van rugbyspelers, wat voorheen nie dié sport op die proef sou gestel het nie.

Verligting teenoor pyn. Die oomblik toe die eindfluitjie blaas in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi. Foto: Getty Images

Só meen van Suid-Afrika se voorste breiers van skoletalent nadat die Bokke die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland met 32-12 gewen het.

Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege in Bloemfontein se eerste rugbyspan, glo dat die Bok-kaptein, Siya Kolisi, wat die trofee omhoog hou golwe deur die land sal stuur.

“Die Springbokke se sege sal sonder twyfel ’n groot invloed op die sport in Suid-Afrika hê,” het Du Plessis dié week by navraag gesê.

“Ek dink ’n groot faktor is dat baie kinders wat moontlik vir die sport verlore sou kon wees, nou in ouens soos Siya Kolisi ’n rolmodel gekry het.”

Du Plessis, wat Grey-kollege se eerste rugbyspan in 2019 tot ’n tweede agtereenvolgende onoorwonne seisoen gelei het, meen dat die woord ‘rolmodelle’ ’n belangrike een is.

“Hulle kan nou streef daarna om só ’n persoon te word en nou is daar ’n klomp rolmodelle waarmee hulle hul kan vereenselwig.

“Kinders sien nou die glorie, maar sal ook moet besef dat dit ongelooflike harde werk en toewyding gaan verg sou hulle eendag in soortgelyke glorie wil deel. Maar op die ou einde is die erkenning tog wat hulle sal nastreef.”

Beast Mtawarira (links), Siya Kolisi (middel) en Frans Steyn (regs) bedank die toeskouers ná hul eindstryd-sege. Foto: Getty Images

Frans Steyn, wat in 2005 aan Grey-kollege gematrikuleer het, het net die tweede Suid-Afrikaner naas Os du Randt in 1995 en 2007 geword om die Wêreldbeker twee keer omhoog te hou.

Cobus Reinach het ook vir die skool vanuit die Rosestad se eerste span uitgedraf in 2008.

“Ons is natuurlik trots op Fransie en Cobus en ek dink veral Frans se ervaring het deur die toernooi ’n groot rol gespeel.”

Volgens Jaco Koch, die eerste rugbyspan se afrigter by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, is rugby meer as net ’n sport vir kinders.

“Dit is baie keer die uitkoms vir moeilike omstandighede by die huis en by die skool, soms die enigste manier waar hulle hulself werklik kan uitleef,” sê Koch.

“Die Wêreldbeker wat terugkeer na Suid-Afrika het weer hierdie baken van hoop vir die seuns gevestig.”

Koch vertel dat hy ’n geruime tyd bekommerd was dat die geesdrif en trots van ’n Springbok wees ’n knou gekry het onder kinders, maar dat die Wêreldbeker-veldtog dié eienskappe weer sal stook.

“Hoe lekker was dit nie om Saterdag te sien dat daardie spelers enige iets sou doen vir die Springbok-wapen, sowel as hulle land nie,” sê hy.

“Dis moeilik om ’n waarde te heg aan hoeveel inspirasie volwassenes en die jong manne daaruit sou gekry het.

“Ek is oortuig dat seuns opnuut hul bes sal doen om hoër hoogtes in die sport te bereik. Dit gaan oorspoel na ’n blink toekoms vir SA rugby in ’n groter geheel.”

Koch, wat as kondisioneringsafrigter by Affies se eerste span was toe RG Snyman in 2012 en 2013 vir hulle uitgedraf het, voeg by dat die Bokke se oorwinning nog diep spore gaan laat.

“Hierdie Wêreldbeker se uitslag gaan veel wyer as net op die rugbyveld gesien kan word.”

Meer oor:  Skolerugby  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.