Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Bokke, All Blacks steun alma maters

Springbokke, All Blacks en selfs ’n lid van die Azzurri het hul ondersteuning laat hoor vir hul alma mater wat volgende week op Paul Roos Gimnasium in die Eikestad sal toesak vir die Wêreld-skolerugbyfees.

Die voormalige All Black-heelagter Mils Muliaina is ’n oudleerling van Southland Boys High. Foto: Getty Images

Die All Black-legende en heelagter Mils Muliaina, wat in nie minder nie as 100 toetse die Kiwi’s verteenwoordig het en ook ’n oudleerling van een van die buitelandse deelnemers, Southland Boys High is, was vol lof vir sy alma mater.

“Ek weet dat julle die skool baie trots sal maak in Stellenbosch en ek sien uit daarna om julle uitslae dop te hou,” het Muliaina in ’n videoboodskap gesê.

Southland Boys High het ’n groot taak wat op hom wag wanneer hulle die gasheer, Paul Roos Gimnasium, en ook die magtige Grey-kollege van Bloemfontein aandurf.

Die Kiwi-senter Anton Lienert-Brown, wat self al 31 toetse vir die Nieu-Seelanders op sy kerfstok het, se ondersteuning lê weer by die skool waar hy sy rugby geleer het, Christchurch Boys High.

Die All Blacks-senter Anton Lienert-Brown is ’n oudleerling van Christchurch Boys High. Foto: Getty Images

“Ek wil julle sterkte toewens. Dis ’n ongelooflike geleentheid om julself teen die wêreld te toets,” sê Lienert Brown, wat sy rugby tans vir die Chiefs in die Superrugby-reeks speel.

“Ek is seker julle gaan ’n heerlike tyd hê en ek kan nie wag om te hoor hoe julle vaar nie.”

Die seuns van Christchurch het self nie ’n maklike toernooi nie en sal gretig wees om die bordjies te verhang teen die manne van Bloemfontein wanneer hulle teen mekaar te staan kom.

Grey het in 2018 die Kiwi’s ’n groot rugbyles geleer en hulle met 66-28 vermorsel.

Daarna sal hulle met die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria swaarde kruis.

Nog ’n voormalige All Black, die skrumskakel Alby Mathewson, wat deesdae in Munster sy rugby speel, het ook die Africa Pacific Dragons sterkte toegewens vir hul wedstryde teen Paarl Gimnasium en Glenwood High School van Durban. Mathewson was op Hastings Boys’ High School.

“Gaan hard in die Kaap en gee alles, want skolerugby is van die beste tyd in jou lewe,” het hy gesê.

Sebastian Negri, wat al 14 toetse sedert 2016 vir Italië gespeel het, sê weer hy staan bankvas agter sy alma mater Hilton College van KwaZulu-Natal en ook die Britse besoekers Hartpury College, vir wie se klubspan hy tussen 2014 en 2017 uitgedraf het.

“Wat ’n plek om uit te draf en jou talente ten toon te stel,” sê die gebore Zimbabwiër, wat as seun na Suid-Afrika verhuis het. “Geniet elke minuut, want julle kry kans om teen van die beste spanne in die wêreld te speel. Ek sal beslis ’n oog op albei spanne hou.”

Sebastian Negri, wat vir Italië uitdraf, was op Hilton College in KwaZulu-Natal op skool. Foto: Getty Images

Die voormalige Springbok-slot Hottie Louw, wat op Boland Landbou net buite die Paarl op skool was, is ook gretig vir die toernooi om af te skop.

“Ek wil sommer vir Boland Landbou en ook al die ander Suid-Afrikaners sterkte toewens by die toernooi. Dis ’n wonderlike kans om jul vaardighede te wys en weet dat julle ’n groot ondersteunersbasis het,” het hy gesê.

Die oud-leerling van Hoërskool Monument, Willem Alberts, het selfs uit Parys in Frankryk vir Monnas ’n boodskap van ondersteuning gestuur, terwyl die oud-Affie en Springbok-skrumskakel Ivan van Zyl ook vir die manne net oorkant Loftus aanmoediging gegee het.

Die Leeus-kaptein en oudleerling van Glenwood, Warren Whiteley, het ook tyd geneem terwyl hy op die kantlyn is vir sy Superrugbyspan om sy ondersteuning vir sy span te gee.

Die Nieu-Seelanders Napier Boys’ High School sal eers ’n draai in die Verenigde Arabiese Emirate maak waar hulle Vrydag ’n wedstryd sal speel ter voorbereiding vir die toernooi in Stellenbosch.

Die Wêreld-skolerugbyfees word vanaf 26 Maart tot 30 Maart gehou en kaartjies is beskikbaar op Computicket.

Meer oor:  Skolerugby  |  Warren Whiteley  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.